’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika - P.G. GOUSSARD

SWAMSIEKTES Donsskimmel 2.2

S oortgelyk aan oïdium kom donsskimmel in alle verbouingsgebiede van SuidAfrika voor en hoewel dit nie soos eersgenoemde noodwendig elke seisoen (afhangend van die streek) voorkom nie, word sodanige oesverliese ontketen dat dit as een van die ekonomies belangrikste swamsiektes uitgesonder kan word. In teenstelling met oïdium benodig swamspore vry water vir ontkieming ná oorwintering op dooie plantmateriaal in wingerde. Onder gunstige klimaatstoestande en vanaf ongeveer 10 cm lootlengtes beskik donsskimmel oor die vermoë om vinnig toe te slaan en sal, afhangend van veral die reënpatroon, slegs sporadies bly of epidemiese afmetings gedurende die verloop van die groeiseisoen aanneem. Bykomende aspekte wat die omvangryke impak van donsskimmel aksentueer, sluit onder andere in dat alle druifkultivars van Vitis vinifera daarvoor ontvanklik is en dat jong trosse (selfs vóór die blomstadium) dikwels aan die pen ry sonder dat enige tekens daarvan visueel op blare waarneembaar is. Sodanige situasies kan derhalwe tot totale oesverliese aanleiding gee. Die eerste tekens van donsskimmel is gewoonlik op blare waarneembaar en word geassosieer met die verskyning van onreëlmatige liggeel vlekke aan die bokante daarvan – soms olievlekke genoem (Foto’s 31 & 32) – wat by rooisap kultivars soos Alicante Bouschet redelik gou ’n rooi kleur aanneem (Foto 33). Gedurende vogtige toestande ontwikkel kenmerkende wit, donserige swamgroei aan die onderkante (Foto 34), wat verteenwoordigend is van miljoene spoordraers en spore. Die geel vlekke verander mettertyd na bruin en/of rooibruin en die wit donserigheid verdwyn (Foto 35). Indien geen beheer toegepas sou word nie, sal swamgroei met die toetrede van opvolgende gunstige toestande weer hervat en daartoe aanleiding gee dat die kringloop voortgesit word, met die uiteinde dat totale blaaroppervlaktes bruin en verdroog daar uitsien. Laat in die seisoen – gewoonlik ná oes – kan die totale of gedeeltelike onderkante van blare met ’n wit swamgroei oortrek word, sonder dat geel olievlekke aan die bokante sigbaar is, in teenstelling met die visuele voorkoms daarvan vroeër in die seisoen (Foto’s 36 & 37). Alhoewel redelik seldsaam, kan jong, groen lote onder baie gunstige klimaatstoestande geïnfekteer word waarna hulle swart verkleur, verdroog en afsterf (Foto’s 38 & 39). In sodanige gevalle kan jong stokke (een tot driejarig) in die geheel uitgewis word. Die ekonomiese impak van donsskimmel kan veral toegeskryf word aan die drastiese effek wat op die oes uitgeoefen kan word. Jong trossies is veral baie gevoelig – selfs vóór blom – wat daartoe lei dat heel trosse op so ’n stadium uitgewis word (Foto’s 40 44). Alhoewel die vatbaarheid van korrels afneem namate hulle ontwikkel, kan infeksie steeds op ’n redelik gevorderde stadium voorkom. Tipiese reaksies sluit verkrimping en verbruining van korrels in, wat dikwels met die ontwikkeling van persagtige kleurskakerings gepaardgaan (Foto’s 45 48). Slegs gedeeltes van trosse of individuele korrels bly dan in die slag, teenoor heel

28 • ’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika

Made with FlippingBook Ebook Creator