’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika - P.G. GOUSSARD

SWAMSIEKTES Oïdium 2.1

O ïdium kom in alle verbouingsgebiede van SuidAfrika voor en afhangende van klimaatstoestande word intensiewe beheerprogramme in noue samewerking met konsultante normaalweg vir die suksesvolle bekamping daarvan vereis. Swamspore (benodig nie vry water vir latere ontkieming nie) oorwinter gewoonlik in winteroë en word gevolglik tydens uitbot vrygestel wanneer stokke reeds vir infeksie ontvanklik is. Alhoewel alle groen dele van stokke aangetas word, word die eerste tekens gewoonlik op die boonste oppervlaktes van blare as klein, liggeel vlekkies (nie olievlekke) waargeneem wat veral opmerklik is wanneer laasgenoemde skuins teen die lig gehou word (Foto’s 10 & 11). ’n Wit poeieragtige swamgroei ontwikkel later en brei uit totdat die hele blaaroppervlakte ’n poeieragtige voorkoms openbaar (Foto’s 12 & 13). Dit spreek vanself dat in sodanige situasies normale fisiologiese funksies van blare ernstig benadeel word waardeur die normale rypwordingsproses gekortwiek word. Intense blaarin­ feksie (Foto’s 14, 15 & 16) kan tot vroeë blaarverlies aanleiding gee waardeur trosblootstel­ ling aan sonbrand of hittebeskadiging ernstige afmetings kan aanneem. Bykomend word die noodsaaklike opbouing van reserwes vir inisiële groei in die daaropvolgende groeiseisoen ook nadelig beïnvloed. Soortgelyk as op blare kom oppervlakkige poeieragtige groei in die vorm van onreëlmatige vlekke op groen lote voor (word donkerder van kleur wanneer gevryf) (Foto’s 17, 18, 19 & 20). Hierdie vlekke bly behoue met lignifikasie en kan gevolglik op winterlote waargeneem word. By ernstige infeksies kan lote in die geheel met hierdie poeieragtige groei oordek word, waardeur veral jong lote aan swak groei of selfs afsterwing onderworpe mag wees. Bykomend mag oë op sulke lote uitbotprobleme in die daaropvolgende groeiseisoen open­ baar. By trosse kan oïdium oor die hele periode vanaf blom tot net voor rypwording waargeneem word. Blomtrosse kan verwelk met gevolglike swak of selfs geen korrelset. Klein, groen korrels word vinnig met ’n wit poeieragtigheid oortrek waarna hulle verbruin en gewoon­ lik afval of abnormaal en onegalig ontwikkel (Foto 21). Groter korrels toon dikwels bene­ wens die wit poeieragtigheid (Foto 22), ’n tipe van bruin (soms swart) verkurking aan die oppervlakte (Foto 23). Indien die poeieragtige “stof” afgevryf word, verskyn donker gekleurde letsels op die korrels wat later bars met ontbloting van die pitte (Foto’s 24, 25, 26 & 27). Korrelstele kan ook aangetas word waardeur vervoer van voedingstowwe sodanig benadeel word dat rypwording nie normaal kan plaasvind nie (Foto 28). Soos rypwording vorder (toename van suiker in korrels), word ’n afname in gevoeligheid ten opsigte van oïdium ondervind (Foto 29) wat daartoe lei dat met die afvryf van waas in sodanige gevalle, die voorkoms daarvan geassosieer word met spinnerakagtige, oppervlak­ kige bruin netwerke (Foto 30).

16 • ’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika

Made with FlippingBook Ebook Creator