’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika - P.G. GOUSSARD
Animated publication
’n Gids tot Wingerd- abnormaliteite in Suid-Afrika
P.G. GOUSSARD
Root formation problems (3); withered shoot growth (4); vascular tissue problems (5).
VOORWOORD
W ingerdabnormaliteite verwys na die toetrede(s) van probleemsituasies wat oor ’n breë spektrum deur skadelike ingrepe van óf siektes en plae, óf omgewingstoestande, óf onoordeelkundige/foutiewelike verbouingspraktyke, by aangetaste stokke geïnduseer word. In hierdie ryk geïllustreerde en omvattende publikasie word die voorkoms van spesifieke verskynsels visueel voorgestel, beskryf en verduidelik. Op grond hiervan word die hoop uitgespreek dat dit van groot hulp vir leerders, produsente en wingerdboukundiges in die algemeen, mag wees. Prof. Pieter Goussard se bydrae as hoofouteur van hierdie aanbieding, word hoog op prys gestel. Met sy agtergrond in navorsing en onderrig en sy praktiese kennis van wingerdbou, is Prof. Goussard die ideale outeur van só ’n publikasie. Hy het al sy akademiese kwalifikasies, insluitend sy PhD (Agric)-graad in 1984, aan die Universiteit Stellenbosch verwerf en was sedert 1971 ’n dosent en later professor aan genoemde universiteit. Gedurende hierdie periode was hy ook vir 14 jaar die voorsitter van die Departement Wingerd- en Wynkunde. Hy het homself gevestig as ’n erkende navorser, wat meer as 100 artikels as wetenskaplike- en populêre publikasies, die lig laat sien het. Hy het ook 25 referate en plakkate by nasionale- en internasionale kongresse gelewer; en het vyf toekennings ontvang, insluitend die Suid-Afrikaanse Wingerd- en Wynkundevereniging (SAWWV) se prys vir navorsing en innovasie. Hy het vir 20 jaar as raadslid van die Suid-Afrikaanse Wingerd- en Wynkundevereniging gedien en was ook vir 15 jaar redakteur van die South African Journal of Enology and Viticulture. Uit bogenoemde blyk dit dat hy hoogstaande diens aan die Suid-Afrikaanse wynbedryf verleen het.
J.H. BOOYSEN Tegniese Adviseur: Winetech
’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika • 1
MEDIA
Eerste publikasie in 2015 deur Wineland Media in samewerking met Winetech, Villa Academy en Universiteit Stellenbosch.
KOPIEREG © WineLand Media/Winetech OUTEUR Prof. P.G. Goussard GRAFIESE LEIDING EN ONTWERP VR Graphics DRUK EN BINDWERK ABC Blackshaws
Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie boek mag sonder skriftelike verlof van die uitgewer gereproduseer of in enige vorm of deur enige elektroniese of van die uitgewer gereproduseer of in enige vorm of deur enige elektroniese of meganiese middel weergegee word nie, hetsy deur fotokopiëring, skryf- of bandopname, of deur enige ander stelsel vir inligtingsbewaring of -ontsluiting. Hierdie boek – ook in Engels beskikbaar met die titel A Guide to Grapevine Abnormalities in South Africa – is nie net vir die wingerdbestuurder bedoel nie, maar vir almal met ’n passie vir die wingerdstok, sy kultuur en die edelprodukte daarvan wat as druiwe en wyn voortgebring word.
ISBN 978-0-620-65724-2
WINELAND MEDIA ) 021 276 0458 7 086 611 7877 Posbus 1411, Suider-Paarl 7624 8 in@wineland.co.za
100 c; 70 m; 0 y; 0 k
0 c; 100 m; 100 y; 0 k
0 c; 40 m; 100 y; 0 k
0 c; 0 m; 0 y; 100 k
INLEIDING
O ptimale inwingerd prestasie van individuele stokke, gepaardgaande met die volhoubare en winsgewende verbouing daarvan, toon ’n noue verwantskap met die gesondheidstoestand van die plantmateriaal sowel as met die deurlopende en korrekte toepassing van praktyke wat ten beste aan die verbouingsvoorkeure en behoeftes van die betrokke kultivars in verskillende streke voldoen. Die toetrede en verdere ontwikkeling van enige abnor maliteit(e) – hetsy geassosieer met óf biotiese (wingerdsiektes en plae) en abiotiese (omgewingstoestande) faktore, óf met onoordeelkundige/foutiewelike vestigings, stokontwikkelings en deurlopende verbouingspraktyke – sal byna sonder uitsondering daartoe bydra dat die produktiewe lewensverwagting van stokke oor die kort of langer termyn nadelig beïnvloed sal word. In hierdie boek word wingerdabnormaliteite – soos gebaseer op die voorkoms en/of oorsake daarvan in terme van spesifieke probleemsituasies – in die volgende kategorieë ingedeel, naamlik: (i) plantmateriaalprobleme; (ii) swamsiektes; (iii) bakteriese siektes; (iv) virus en virusagtige siektes; (v) wingerdplae; (vi) abiotiese abnormaliteite; (vii) genetiese afwykings; (viii) voedingselementtekorte en toksisiteite; (ix) onkruiddoderfitotoksisiteit; (x) onoordeelkundige/foutiewelike verbouingspraktyke/aksies en (xi) varia. Met bogenoemde as agtergrond is kernagtige beskrywings betreffende die visuele voorkoms van spesifieke verskynsels hoofsaaklik op verbandhoudende literatuur (met klem op teksboeke) gebaseer (Perold, 1926; Du Plessis, 1947; Winkler et al., 1974; Bovey et al., 1980; De Klerk, 1981; Marais, 1981; Saayman, 1981; Smit, 1981; Galet, 1978, 1995; Ferreira & Venter, 1996; Bailey et al., 1998). Aanvullend hiertoe word abnormaliteitsingrepe met fotomateriaal uitgebeeld – ten einde opsigself met kriptiese, dog basiese onderskrifte by individuele voorbeelde toegelig te kon word. Alhoewel weens die omvangryke uiteenlopendheid daarvan hoofsaaklik op die voorkoms en beskrywing van die mees tipiese abnormaliteite gefokus word, is daadwerklike pogings aangewend om waar toepaslik ook minder bekende verskynsels, wat by uitsondering mag voorkom, aan die orde te stel. Aangesien in hierdie aanbieding hoofsaaklik op die visuele voorkoms/waarnemings van spesifieke abnormaliteite gekonsentreer word, is beskrywings (behalwe in uitsonderlike en toepaslike gevalle) van: (i) wetenskaplike benamings van veroorsakende organismes en die lewensiklusse daarvan; (ii) spesifieke siekte en plaagbeheerprogramme en (iii) die meganismes van werking van beheer, voorkomings en uitwissingsmiddels, nie opgeneem nie. Aanvullend is dit van kardinale belang dat, indien daar enige twyfel oor die identifikasie van ’n probleem op grond van visuele voorkoms bestaan, vakkundiges in sodanige gevalle graadpleeg moet word ter bevestiging. Die oorkoepelende oogmerk berus daarop om op grond van die korrekte identifisering van ’n probleem, belanghebbendes in die bedryf binne die vermoë te plaas om tydig en effektief in terme van beheer en/of regstellende strategieë op te tree.
’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika • 3
100 c; 70 m; 0 y; 0 k
0 c; 100 m; 100 y; 0 k
0 c; 40 m; 100 y; 0 k
0 c; 0 m; 0 y; 100 k
Villa Academy groei bestepraktyk in gewasbeskerming G ewasbeskerming, net soos enige ander industrie, floreer op menslike kennis. Maatskappye wat in stemming met hul personeel is verstaan dat hul mense ’n behoefte na sukses het. Opleiding is net so belangrik soos praktiese ondervinding in personeel se strewe na professionele sukses en status. Johannesburg bedryf. Vandag bied die akademie ’n geleentheid aan intreevlak studente sowel as senior kandidate om klasse by te woon sowel as te netwerk met mense van regoor die industrie. Die Villa Academy benader opleiding met ’n mengsel van akademiese opleiding en praktiese ondervinding. Ongeveer 30 lektore se loopbaanondervinding in beide akademia en in die veld word ingespan om ’n welgeronde leerondervinding te skep. Deel van Villa Academy se uniekheid is dat studente van verskillende
Die Villa Academy verstaan die behoefte om jong mense na die industrie te bring, en dit beteken natuurlik dat hierdie nuwe generasie van verkoopspersoneel iemand nodig het om hulle op te lei. Oor tyd het die industrie as geheel al baie gewik en -weeg oor wat die beste manier is om hierdie opleiding te benader, maar ongelukkig het dit meestal net tot praatjies, in plaas van aksie, gelei. Dit is op hierdie punt waar Villa Crop Protection besluit het om leiding te neem. Die Villa Academy is in Februarie 2011 van stapel gestuur en word vanaf twee kampusse in die Wes Kaap en
ondervindingsvlakke gereeld ’n klaskamer deel. Dit mag dalk op eerste oogopslag na ’n groot uitdaging vir enigiemand in die akademiese veld klink, maar die voordeel is dat studente met jare se praktiese ondervinding, maar geen formele tersiêre ondervinding nou blootgestel word aan jong gegradueerdes wat dalk die formele kennis het, maar nie die praktiese ondervinding nie. Sodoende leer almal by mekaar. Klasse wissel in lengte van een tot drie dae en dek ’n wye verskeidenheid van
onderwerpe – insluitende basiese toksikologie, gewasbeskerming, siektebeheer, plantgroeireguleerders, onkruidbeheer, insekbeheer, hantering van klagtes, biotegnologie, byvoegmiddels en vele meer. Die kurrikulum bestaan grootliks uit probleem-georiënteerde opleiding waar studente in groepe werk om werklike probleme aan te pak en op te los. Die dosent dien as fasiliteerder om self-bestuur en ’n aktiewe benadering aan te moedig, eerder as ’n passiewe opleiersentriese model. Klasse is intensief en hoë standaarde word vereis. In die ‘Inleiding tot Gewasbeskerming’ klas byvoorbeeld, word daar verwag dat studente na slegs ure reeds ’n begrip vir sleutelkonsepte kan tendense, mark segmentering, die rol van Chinese- en Indiese produkverskaffers, klassifikasie van verskaffers en produkte, lewenssiklus van produkte en post-patent tegnologie, sade en GM tegnologie. Behalwe vir die klasse, sluit assesseringskriteria geskrewe toetse en ’n toon, soos die geskiedenis van die industrie, historiese en toekomstige
finale projek in, waar studente ’n produksieplan vir ’n gewas in hul area moet navors en voorlê wat betekenis, evaluering van klimaat- en grond-geskiktheid asook die toepassing van sleutelbeginsels van plantbeskerming en plantproduksie dek. Die gewas-chemikalië industrie ontwikkel vinnig en is besonder tegnies. Na jare se ervaringsleer en selfopleiding besef ons daagliks dat hierdie dinamiese veld altyd verander en dat daar altyd meer is om te leer. Die realiteit is dat ’n agrochemiese verkoopspersoon nie net die verantwoordelik vir kliëntverhoudings dra nie, maar dat ’n enkele fout tot enorme skade kan lei. Verder beskik meeste kliënte self oor landbougrade, wat beteken dat agente oor die kennis moet beskik wat hulle in staat sal stel om op gelyke voet met hoogs gekwalifiseerde kliënte te kan gesels en waarde toe te voeg. Die gewas-chemikalië industrie in Suid-Afrika is klein. As ons almal die oorhoofse situasie kan verstaan en waardeer, kan ons almal wenners wees.
Villa Academy – Groei jou kennis, oes sukses!
www.villaacademy.co.za
1 PLANTMATERIAALPROBLEME_______________________________________ 8 2 SWAMSIEKTES____________________________________________________ 14 2.1 Oïdium ____________________________________________________ 16 2.2 Donsskimmel _______________________________________________ 28 2.3 Streepvlek__________________________________________________ 40 2.4 Swartroes (antraknose) _______________________________________ 47 2.5 Botrytis (vaalvrot) ___________________________________________ 53 2.6 Suurvrot en blougroen/swartskimmels___________________________ 62 2.7.1 Swamsiektes geassosieerd met hout en wortelverrotting/afsterwing ___ 70 2.7.2 Swamsiektes geassosieerd met hout en wortelverrotting/afsterwing ___ 81 3 BAKTERIESE SIEKTES ______________________________________________ 94 3.1 Vlamsiekte _________________________________________________ 95 3.2 Kroongal __________________________________________________ 103 4 VIRUS EN VIRUSAGTIGE SIEKTES __________________________________ 110 4.1 Netelblaar_________________________________________________ 112 4.2 Rolblaar __________________________________________________ 120 4.3 Gleufstam en skurfbas ( rugose wood kompleks)____________________ 136 4.4 ShirazSiekte _______________________________________________ 146 4.5 ShirazTerugsterwing ________________________________________ 157 4.6 Wingerdvlek (fleck) en rasperblaar (enation) _____________________ 161 4.7 Astervergeling _____________________________________________ 169 5. WINGERDPLAE __________________________________________________ 177 5.1 Filloksera, margarodes en nematodes ___________________________ 178 5.2 Snuitkewers/kalanders en krompokkels _________________________ 186
6 • ’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika
INHOUD
5.3 Witluis en miere____________________________________________ 198 5.4 Knoppiesblaar en knopmyt ___________________________________ 208 5.5 Stamboorders, slakke en vrugtevlieg ____________________________ 215 5.6 Blaarspringers, bolwurm, pylstertruspers, lentekewers, verwelkbesies en blaaspootjies ________________________________ 226 5.7 Voëls, sakwurms, knaagdiere, rysmiere, dassies, wildsbokke en motte/skoenlappers _____________________________ 238 6. ABIOTIESE ABNORMALITEITE _____________________________________ 249 6.1 Wind, hitte, sonbrand en rypskade ___________________________ 250 6.2 Drooge, versuiping en brak ___________________________________ 262 6.3 Hael, weerlig, swawelbrand, rouband en groeistilstand _____________ 272 7. GENETIESE AFWYKINGS __________________________________________ 282 8. VOEDINGSELEMENTTEKORTE EN TOKSISITEITE ____________________ 296 9. ONKRUIDDODERFITOTOKSISITEIT________________________________ 308 10. ONOORDEELKUNDIGE/FOUTIEWELIKE VERBOUINGSPRAKTYKE/AKSIES___________________________________ 322 11. VARIA __________________________________________________________ 335
VERWYSINGS ________________________________________________________ 348
INDEKS _____________________________________________________________ 356
’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika • 7
PLANTMATERIAAL- PROBLEME 1 I n SuidAfrika word ’n besonder hoë premie op plantverbetering geplaas – waardeur meegebring word dat al die materiaal, hetsy van ingevoerde of plaaslik ontwikkelde klone en kultivars, aan uiters streng gekontroleerde verbeteringsprosesse onderwerp word alvorens dit aan die bedryf beskikbaar gestel word. Tans beskik die SA wynbedryf oor hoofsaaklik twee plantverbeteringsinstansies/aanlegte, naamlik: (i) Vititec en (ii) Ernita Kwekery (Distell), in welke opsig ’n gemeenskaplike doelwit – soos gebaseer op die uitreiking van uitsluitlik die bes beskikbare wingerd en wynboukundig geselekteerde kloonmateriaal, wat vry toets van bekende skadelike virusse en virusagtige entiteite – deurlopend nagestreef word. Op grond daarvan dat weefselkultuurtegnieke ( in vitro kulture) ’n onontbeerlike skakel ten opsigte van plantmateriaalverbetering versinnebeeld, is intensiewe en omvattende navorsing hieromtrent (vanaf 1977) deur die Departement Wingerd en Wynkunde, Universiteit Stellenbosch, van stapel gestuur – met spesifieke oogmerke om sodanige tegnieke vir plaaslike toestande te ontwikkel ten einde onder andere vir die suksesvolle eliminering van skadelike virusse en verwante entiteite voorsiening te kon maak (Goussard, 1981, 1982, 1984, 1985, 1987). Voortspruitend uit hierdie baanbrekerswerk en latere samewerking met bogenoemde instansies, is tegnologie soos verbonde aan hierdie tegnieke (Goussard & Wiid, 1989; Goussard et al., 1991; Goussard & Wiid, 1992, 1995) tot wêreldstandaarde uitgebou en verfyn – om tans steeds uiters suksesvol in plantmateriaalverbeteringsprosesse aangewend te word. Ingevolge die Plantverbeteringswet is die Wyndruifverbeteringsvereniging (WVV) die gedelegeerde gesag wat plantverbetering by wyndruiwe in SuidAfrika koördineer en die SA Sertifiseringskema vir Wyndruiwe administreer. Klone wat ontwikkel word en waarvan materiaal die totale kringloop van plantverbetering (kloonseleksie, virusopsporing en – eliminering, asook plaaslike evaluering op wingerd sowel as wynboukundige gebiede) deurloop het, word by die WVV geregistreer, waarna entmateriaal as ‘SA Gesertifiseerd’ vanaf goedgekeurde bronne uitgereik word.
8 • ’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika
DEEL 1
In die praktyk, waar die produktiewe en volhoubare prestasie van enige wingerdstok met ’n verwagte lewensduur van minstens 25 jaar vereenselwig word, word die kwaliteit van vestigingsmateriaal baie hoog aangeslaan. Gegewe die plaaslike situasie betreffende plantverbetering, word derhalwe ’n dringende en belangrike versoek tot produsente gerig om te alle tye by geregistreerde kwekers op gesertifiseerde kwekerystokke aan te dring. Sodoende kan verseker word dat slegs die bes beskikbare materiaal aangeplant word. ’n Verdere aanbeveling sou ook kon wees dat ’n vertrouenswaardige verhouding tussen produsente en kwekers opgebou word, in welke geval die ondervinding daarop dui dat laasgenoemde nie ongeneë sal optree indien probleme by jong aanplantings sou opduik nie – veral nie ten opsigte van virusgeassosieerde verskynsels (Foto 1), asook in gevalle van entlas (Foto 2) en wortelvormingsprobleme nie (Foto 3). Dieselfde benadering sou kon geld waar probleme geassosieer met vertraagde of geen bot, vergeling van lower, verdwergde lootgroei (Foto 4) en algehele terugsterwing (Foto 5) by jong stokke sou toetree. In hierdie verband moet sekerheid verkry word van onder andere die aanwesigheid en bydrae(s) van Petri se siekte (black goo) en swartvoet (blackfoot) tot die verkleuring, verrotting en verstopping van vaatweefsel waarmee bogenoemde situasies vereenselwig sou kon word (Foto’s 6, 7, 8 en 9). Benewens plantmateriaal is korrekte en sorgvuldige grondvoorbereiding, hantering van geënte stokkies wanneer by kwekerye afgehaal asook korrekte en nougesette plantprose dures van ewe groot belang om nie slegs ’n minimum lewensverwagting van 25 jaar en selfs meer te bereik nie, maar ook om deurlopend volhoubare en winsgewende opbrengste te verseker. In hierdie verband is volledige en ryklik geïllustreerde riglyne ten opsigte van korrekte grondvoorbereidingspraktyke, plant van stokke en jongstokontwikkelingsprose dures breedvoerig deur Archer & Hunter (2010) uiteengesit. Die stiptelike nakoming van hierdie aanbevelings maak dit dan makliker om die oorsaak(e) van spesifieke probleem situasies soos bo aangedui, vas te stel indien dit na vore sou tree.
’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika • 9
Virusgeassosieerde verskynsel (1); verdikte entlas (2).
FOTO 1. Die visuele voorkoms van hierdie jong aangeplante Pinotagestok openbaar ’n tipiese clos terovirusgeassosieerde verskynsel. Soortgelyke situasies beklemtoon die noodsaaklikheid van deurlopende benutting van gesertifiseerde materiaal by nuwe aanplantings.
FOTO 2. ’n Tipiese verdikte entlas (moet nie met Shirazagteruitgang of kroongal verwar nie) wat met ondoeltreffende entlasheling geassosieer word. Oorvloedige kallusvorming vanaf die entjie met min of geen daarvan vanaf die onderstokkomponent dra daartoe by dat laasgenoemde oënskynlik “doodgewurg” word. In sodanige gevalle bestaan ’n sterk moontlikheid dat geen kambiale oorbrugging met ’n gevolglike gebrek aan vaatweefseldifferensiasie en aansluiting plaasvind wat tot die dood van die geënte kombinasie aanleiding gee.
10 • ’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika
Wortelontwikkelingsprobleme (3); verdwergde lootgroei (4); vaatweefselprobleme (5).
FOTO 3. Wortelontwikkeling slegs aan een kant van die onderstok dra daartoe by dat die wond aan die teenoorgestelde kant nooit ordentlik heel nie en gevolglik ideale ingangskanale vir nadelige sekondêre organismes skep. So ’n situasie moet reeds vóór vestiging van eenjarige geënte stokke uitgeklaar word.
FOTO 4. Hierdie jong stok toon duidelike verdwergde lootgroei met gepaardgaande lowervergeling kort na vestiging.
FOTO 5. Algehele terugsterwing van stok (Foto 4) wat op belemmerde sapvloei (vaat weefselprobleme) dui.
’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika • 11
Swartvoet.
FOTO 6. Lengtesnitte van die basisse (voete) van stokke (Foto’s 4 & 5) toon duidelike tekens van verkleuring, verrotting en verstopping van die vaatweefsel. Let op die toestand van die wortels. Laboratorium ondersoeke het die betrokkenheid van swartvoet (black foot) bevestig.
FOTO 7. ’n Tipiese voorbeeld van swartvoetverbruining vanaf die basgedeelte by hierdie onderstok.
12 • ’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika
Swartvoet (8); Petri se siekte (9).
FOTO 8. Swartvoetvaatweefselverkleuring word met hierdie lengtesnit deur die voet van die onderstok aangedui.
FOTO 9. Verkleuring, verstopping en vergomming van vaatweefsel (veral xileem) wat aan Petri se siekte (black goo) toegeskryf kan word.
’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika • 13
2
SWAMSIEKTES
A lhoewel druifkultivars onderling verskil ten opsigte van vatbaarheid/ weerstandbiedendheid teenoor die toetrede(s) van belangrike/seisoenale swamsiektes (Perold, 1926; Orffer, 1979; Marais, 1981; Goussard, 2008), moet deeglik in gedagte gehou word dat veral vogtigheid en temperatuur as klimaatsparameters ’n uiters belangrike rol in die voorkoms daarvan speel. Derhalwe moet, benewens die oordeelkundige aanwending van spuitprogramme, besluite oor hellings, liggings, stokspasiëring en prieelstelsels – insluitend sinvolle/toepaslike prosedures betreffende stokontwikkeling en lowerbestuur – met die grootste omsigtigheid geneem word. Oorkoepelend sal/kan alle praktyke wat bydraend tot nat en bedompige toestande binne stokke optree, die voorkoms van swamsiektes bevorder. Abnormaliteite hiermee geassosieerd is in die meeste gevalle weerspieëlend van lokale skade aan betrokke organe, met bykans in alle gevalle spesifiek waarneembare letsels aan orgaanoppervlaktes. Allesomvattend moet deeglik in gedagte gehou word dat wanneer swamsiektes sodanig voorkom dat die visuele voorkoms daarvan met spesifieke abnormaliteite geassosieer kan/mag word, ernstige skade dan reeds aangerig is met ’n gevolglike belemmering van beheerstrategieë. Dit spreek vanself dat beheerpraktyke ten alle tye op ’n voorkomende basis behoort te fokus. Hierbenewens moet beheer nie gestaak word met die insameling van huidige oeste nie, maar behoort voortgesit te word met die oogmerk om blare vir so lank moontlik in so ’n gesonde toestand as moontlik te behou. Sodanige aksies sou benewens die opbou van voldoende reserwes ook ’n waardevolle bydrae kan lewer tot ’n vermindering in die inokulum-druk van toepaslike siektes betreffende die daaropvolgende groeiseisoen. In teenstelling met die voorkoms van seisoenale swamsiektes, in welke opsig skadelike ingrepe daarvan met oordeelkundige strategieë beheer/uitgewis/voorkom kan word, is dit nie die geval waar weefsel van een- of meerjarige hout (bogronds) en wortels (ondergronds) aan die toetrede en verdere verloop van verrotting/nekrose/verstopping onderwerp word nie – met die oorkoepelende implikasie dat die vegetatiewe- en produktiewe leeftyd van
14 • ’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika
DEEL 2
stokke oor die kort- en/of langer termyn ernstig ondermyn kan word. Algehele of gedeeltelike af-/terugsterwing kan derhalwe in al die verbouingsgebiede by jong sowel as by ouer aanplantings aan die orde gestel word. Met verwysing na bogrondse situasies, kan sodanige terugsterwing met spesifieke swamsiektes – wat enkelvoudig of binne ’n kompleks kan voorkom – vereenselwig word en kan/mag snoeiwonde as prominente toegangspoorte betreffende aanvanklike infeksies uitgesonder word. Sodoende kom die ontwikkelings- kringloop van onderskeie patogene aan die gang ten einde stelselmatig tot verrotting en/of verstopping van veral vaatweefsel bydraend te wees, waardeur normale sapvloei uiteraard ernstig belemmer en selfs stopgesit kan word. In bogenoemde verband word tans toonaangewende navorsing by beide die Departement Plantpatologie (Universiteit Stellenbosch) en LNR Infruitec-Nietvoorbij (Stellenbosch) onderneem waarin verskeie oorkoepelende aspekte van veral die wingerdstamsiekte-kompleks, ontrafel word. Voortspruitend uit hierdie navorsing het verskeie insiggewende en bedryfstoepasbare aksies in publikasieformaat reeds verskyn waarin onder andere spesifieke protokols neergelê kon word ten opsigte van: (i) die bestuur van Eutypa-terugsterwing in Suid- Afrikaanse wingerde (Halleen, 2010a) en (ii) die toepassing van sanitêre maatreëls by kwekerye ter bekamping van stamsiekte-patogene (Halleen, 2010b). Bydraes betreffende die beskerming van snoeiwonde teen stamsiekte-infeksies – met insluiting van die benutting van Trichoderma- produkte vir biologiese beheer – sou as besonder waardevol vir plaaslike bedryfstoepassing beskou kon word (Mutawila et al., 2011a, b). Aangesien stokterugsterwing – wat dikwels in visuele voorkoms varieer – aan individuele of verskeie patogene binne die stamsiekte-kompleks toegeskryf word, word die in-wingerd identifikasie daarvan dienooreenkomstig bemoeilik. Teen hierdie agtergrond word produsente ten sterkste aangemoedig dat in alle gevalle van onsekerheid oor spesifieke swamsiektes/probleemsituasies, selfs al sou dit nie uitsluitlik op stamsiektes van toepassing wees nie, onverwyld met kundiges by bogenoemde instansies (wat oor doeltreffend funksionerende siekteklinieke beskik) in konsultasie getree word. Sodoende sou werklike oorsake akkuraat aan die kaak gestel kon word ten einde toepaslike beheer- en/of bekampingstrategieë so spoedig doenlik te implimenteer.
’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika • 15
SWAMSIEKTES Oïdium 2.1
O ïdium kom in alle verbouingsgebiede van SuidAfrika voor en afhangende van klimaatstoestande word intensiewe beheerprogramme in noue samewerking met konsultante normaalweg vir die suksesvolle bekamping daarvan vereis. Swamspore (benodig nie vry water vir latere ontkieming nie) oorwinter gewoonlik in winteroë en word gevolglik tydens uitbot vrygestel wanneer stokke reeds vir infeksie ontvanklik is. Alhoewel alle groen dele van stokke aangetas word, word die eerste tekens gewoonlik op die boonste oppervlaktes van blare as klein, liggeel vlekkies (nie olievlekke) waargeneem wat veral opmerklik is wanneer laasgenoemde skuins teen die lig gehou word (Foto’s 10 & 11). ’n Wit poeieragtige swamgroei ontwikkel later en brei uit totdat die hele blaaroppervlakte ’n poeieragtige voorkoms openbaar (Foto’s 12 & 13). Dit spreek vanself dat in sodanige situasies normale fisiologiese funksies van blare ernstig benadeel word waardeur die normale rypwordingsproses gekortwiek word. Intense blaarin feksie (Foto’s 14, 15 & 16) kan tot vroeë blaarverlies aanleiding gee waardeur trosblootstel ling aan sonbrand of hittebeskadiging ernstige afmetings kan aanneem. Bykomend word die noodsaaklike opbouing van reserwes vir inisiële groei in die daaropvolgende groeiseisoen ook nadelig beïnvloed. Soortgelyk as op blare kom oppervlakkige poeieragtige groei in die vorm van onreëlmatige vlekke op groen lote voor (word donkerder van kleur wanneer gevryf) (Foto’s 17, 18, 19 & 20). Hierdie vlekke bly behoue met lignifikasie en kan gevolglik op winterlote waargeneem word. By ernstige infeksies kan lote in die geheel met hierdie poeieragtige groei oordek word, waardeur veral jong lote aan swak groei of selfs afsterwing onderworpe mag wees. Bykomend mag oë op sulke lote uitbotprobleme in die daaropvolgende groeiseisoen open baar. By trosse kan oïdium oor die hele periode vanaf blom tot net voor rypwording waargeneem word. Blomtrosse kan verwelk met gevolglike swak of selfs geen korrelset. Klein, groen korrels word vinnig met ’n wit poeieragtigheid oortrek waarna hulle verbruin en gewoon lik afval of abnormaal en onegalig ontwikkel (Foto 21). Groter korrels toon dikwels bene wens die wit poeieragtigheid (Foto 22), ’n tipe van bruin (soms swart) verkurking aan die oppervlakte (Foto 23). Indien die poeieragtige “stof” afgevryf word, verskyn donker gekleurde letsels op die korrels wat later bars met ontbloting van die pitte (Foto’s 24, 25, 26 & 27). Korrelstele kan ook aangetas word waardeur vervoer van voedingstowwe sodanig benadeel word dat rypwording nie normaal kan plaasvind nie (Foto 28). Soos rypwording vorder (toename van suiker in korrels), word ’n afname in gevoeligheid ten opsigte van oïdium ondervind (Foto 29) wat daartoe lei dat met die afvryf van waas in sodanige gevalle, die voorkoms daarvan geassosieer word met spinnerakagtige, oppervlak kige bruin netwerke (Foto 30).
16 • ’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika
Oïdium.
FOTO 10. Nog feitlik onopsigtelik, maar die eerste tekens van oïdium as klein, liggeel vlekkies op die boonste oppervlaktes kan reeds waargeneem word wanneer blare skuins teen die lig gehou word.
FOTO 11. In hierdie geval is die vlekkies (Foto 10) meer prominent waardeur die visuele waarneming van oïdium vergemaklik word.
’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika • 17
Oïdium.
FOTO 12. Die kenmerkende wit poeieragtige swamgroei wat met oïdium geassosieer word, vind sy beslag en brei vinnig uit tot oordekking van heel blaaroppervlaktes.
FOTO 13. ’n Tipiese voorbeeld waar beheermaatreëls teen oïdium gedurende die naoes periode nie volgehou is nie. Benewens oïdium is rolblaar ’n bykomende faktor waardeur normale fisiologiese prosesse by hierdie blare belemmer word.
18 • ’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika
Oïdium.
FOTO 14. Benewens die wit poeieragtigheid, kan die ontwikkeling van perserige, bruinswart verkleu rings hier waargeneem word.
FOTO 15. Intense blaarinfeksie lei tot spoedige nekrose van blaardele waardeur die prosesse betrokke by vroeë blaarverliese aan die gang gesit word.
’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika • 19
Oïdium.
FOTO 16. Erge oïdiuminfeksie later in die seisoen kan gemaklik met hierdie voorbeeld geïdentifiseer word. Let ook op die tipiese poeieragtige vlekke (wat reeds donkerder van kleur vertoon) op die blaarstele.
FOTO 17. ’n Tipiese voorbeeld van die voorkoms van onreëlmatige, oppervlakkige oïdiumvlekke op jong, groen lote.
20 • ’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika
Oïdium.
FOTO 18. Vlekke soos by Foto 17 word donkerder van kleur wanneer gevryf. ’n Soortgelyke situasie word by blaarstele aangetref.
FOTO 19. Oïdiumvlekke op effens ouer lote. Dit kan feitlik met sekerheid aanvaar word dat oë by sodanige infeksies ook aan die beurt sal kom.
’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika • 21
Oïdium.
FOTO 20. Oïdiumvlekke op lote bly behoue met lignifikasie en kan as sulks met gemak op winter lootgedeeltes waargeneem word.
FOTO 21. ’n Tipiese voorbeeld waar klein, groen korrels met ’n wit poeieragtigheid oortrek word. Let op dat sommige korreltjies reeds verbruin/verswart het en op die punt staan om af te val.
22 • ’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika
Oïdium.
FOTO 22. ’n Tros van Chenin blanc toon tipiese oordekking van feitlik al die korrels met ’n wit poeieragtigheid. In hierdie stadium is dit reeds onmoontlik om so ’n tros “gesond” te maak of te red – selfs al sou die beste en duurste beheermiddels benut word.
FOTO 23. Benewens die wit poeieragtigheid toon groter korrels dikwels ’n bruin (soms swart) verkurking aan die oppervlakte. Moet nie met swawelbrand of blaaspootjieskade verwar nie.
’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika • 23
Oïdium.
FOTO 24. Donker gekleurde letsels verskyn op korrels met die afvryf van die poeieragtige stof.
FOTO 25. Letsels (Foto 24) op korrels van hierdie Shiraztros begin om aanleiding tot die ontwikkeling van barste te gee.
24 • ’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika
Oïdium.
FOTO 26. Bars van korrels gaan met ontbloting van pitte gepaard.
FOTO 27. Grootskaalse bars van korrels met gepaardgaande ontbloting van pitte.
’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika • 25
Oïdium.
FOTO 28. Die visuele voorkoms van laterale vertakkings van die trosraamwerk asook korrelstele wat aan oïdiuminfeksie onderwerp word.
FOTO 29. ’n Afname in gevoeligheid ten opsigte van oïdium word met vordering in rypwording ondervind.
26 • ’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika
Oïdium.
FOTO 30. Met die afvryf van waas by feitlik ryp korrels word die voorkoms van oïdium met spinnerakagtige, oppervlakkige bruin netwerke geassosieer.
’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika • 27
SWAMSIEKTES Donsskimmel 2.2
S oortgelyk aan oïdium kom donsskimmel in alle verbouingsgebiede van SuidAfrika voor en hoewel dit nie soos eersgenoemde noodwendig elke seisoen (afhangend van die streek) voorkom nie, word sodanige oesverliese ontketen dat dit as een van die ekonomies belangrikste swamsiektes uitgesonder kan word. In teenstelling met oïdium benodig swamspore vry water vir ontkieming ná oorwintering op dooie plantmateriaal in wingerde. Onder gunstige klimaatstoestande en vanaf ongeveer 10 cm lootlengtes beskik donsskimmel oor die vermoë om vinnig toe te slaan en sal, afhangend van veral die reënpatroon, slegs sporadies bly of epidemiese afmetings gedurende die verloop van die groeiseisoen aanneem. Bykomende aspekte wat die omvangryke impak van donsskimmel aksentueer, sluit onder andere in dat alle druifkultivars van Vitis vinifera daarvoor ontvanklik is en dat jong trosse (selfs vóór die blomstadium) dikwels aan die pen ry sonder dat enige tekens daarvan visueel op blare waarneembaar is. Sodanige situasies kan derhalwe tot totale oesverliese aanleiding gee. Die eerste tekens van donsskimmel is gewoonlik op blare waarneembaar en word geassosieer met die verskyning van onreëlmatige liggeel vlekke aan die bokante daarvan – soms olievlekke genoem (Foto’s 31 & 32) – wat by rooisap kultivars soos Alicante Bouschet redelik gou ’n rooi kleur aanneem (Foto 33). Gedurende vogtige toestande ontwikkel kenmerkende wit, donserige swamgroei aan die onderkante (Foto 34), wat verteenwoordigend is van miljoene spoordraers en spore. Die geel vlekke verander mettertyd na bruin en/of rooibruin en die wit donserigheid verdwyn (Foto 35). Indien geen beheer toegepas sou word nie, sal swamgroei met die toetrede van opvolgende gunstige toestande weer hervat en daartoe aanleiding gee dat die kringloop voortgesit word, met die uiteinde dat totale blaaroppervlaktes bruin en verdroog daar uitsien. Laat in die seisoen – gewoonlik ná oes – kan die totale of gedeeltelike onderkante van blare met ’n wit swamgroei oortrek word, sonder dat geel olievlekke aan die bokante sigbaar is, in teenstelling met die visuele voorkoms daarvan vroeër in die seisoen (Foto’s 36 & 37). Alhoewel redelik seldsaam, kan jong, groen lote onder baie gunstige klimaatstoestande geïnfekteer word waarna hulle swart verkleur, verdroog en afsterf (Foto’s 38 & 39). In sodanige gevalle kan jong stokke (een tot driejarig) in die geheel uitgewis word. Die ekonomiese impak van donsskimmel kan veral toegeskryf word aan die drastiese effek wat op die oes uitgeoefen kan word. Jong trossies is veral baie gevoelig – selfs vóór blom – wat daartoe lei dat heel trosse op so ’n stadium uitgewis word (Foto’s 40 44). Alhoewel die vatbaarheid van korrels afneem namate hulle ontwikkel, kan infeksie steeds op ’n redelik gevorderde stadium voorkom. Tipiese reaksies sluit verkrimping en verbruining van korrels in, wat dikwels met die ontwikkeling van persagtige kleurskakerings gepaardgaan (Foto’s 45 48). Slegs gedeeltes van trosse of individuele korrels bly dan in die slag, teenoor heel
28 • ’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika
Donsskimmel.
trosse wat gewoonlik voor en tot ertjiekorrelstadium en selfs daarna vernietig word (Foto’s 49 & 50). Vroeë tekens van oïdium op blare en jong trossies kan soms met dié van donsskimmel verwar word. Daar kan egter met gemak tussen die betrokke siektes onderskei word deur die materiaal met ’n spuitfles te benat en dit daarna in ’n klam, opgeblaasde plastieksak by ’n matige temperatuur (20 30°C) oornag te hou. In die geval van donsskimmel sal daar die volgende dag uitbundige swamgroei sigbaar wees (Foto 51), in teenstelling met oïdium waar geen sigbare swamgroei sal voorkom nie.
FOTO 31. Die eerste tekens van donsskimmel word geassosieer met onreëlmatige, liggeel vlekke aan die bokante van blare. Let op die olierige, blink voorkoms daarvan – vandaar die benaming “olievlekke”.
’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika • 29
Donsskimmel.
FOTO 32. Die onreëlmatigheid in omvang en groottes van vlekke (Foto 31) op individuele blare word hier geïllustreer. Moet nie met oïdium of onkruiddoderskade verwar nie.
FOTO 33. By rooisap kultivars soos Alicante Bouschet word donsskimmelvlekke gou rooi van kleur.
30 • ’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika
Donsskimmel.
FOTO 34. Onder gunstige toestande ontwikkel kenmerkende wit, donserige swamgroei (verteenwoordigend van miljoene spoordraers en spore) spoedig aan die onderkante van blare.
FOTO 35. Die geel vlekke verander mettertyd na bruin/rooibruin wat met die verdwyning van die wit donsigheid aan die onderkante van blare gepaardgaan.
’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika • 31
Donsskimmel.
FOTO 36. ’n Tipiese voorbeeld waar wit swamgroei aan die onderkante van blare voorkom sonder kenmerkende geel oliekolle aan die bokante daarvan. Hierdie verskynsel kom laat in die seisoen voor – gewoonlik ná oes.
FOTO 37. Donsskimmel op blare laat in die seisoen. Let op die afwesigheid van geel olievlekke.
32 • ’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika
Donsskimmel.
FOTO 38. Infeksie van jong, groen lote met donsskimmel lei tot swart verkleuring daarvan, waarna dit verbruin, bars en uitdroog.
FOTO 39. Jong stokkies kan in die geheel uit gewis word in opvolging van donsskimmel infeksie van jong, groen lote.
FOTO 40. ’n Tipiese voorbeeld van die uitwissing van blomtrosse as gevolg van donsskimmelinfeksie.
’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika • 33
Donsskimmel.
FOTO 41. Aktiewe, uitbundige swamgroei wat verteenwoordigend is van miljoene spoordraers en spore. Sodanige situasies word gewoonlik ontlok ná onderwerping van verdagte donsskimmelgeïnfekteerde organe aan die plastieksak “inkubering”.
FOTO 42. Donsskimmel kort vóór en tydens die blomstadium.
34 • ’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika
Donsskimmel.
FOTO 43. Die voorkoms van donsskimmel ná korrelset.
FOTO 44. In samehang met die uitwissing van jong korrels (Foto 43), is duidelike verbruining van die trosraamwerk hier waarneembaar.
’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika • 35
Donsskimmel.
FOTO 45. Die eerste tekens van inkrimping van effens groter korrels is visueel sigbaar terwyl swamgroei lustig voortgaan.
FOTO 46. Donsskimmel word dikwels geassosieer met persagtige kleurskakerings (sonder prominente inkrimping) van korrels op ’n redelik gevorderde groeistadium.
36 • ’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika
Donsskimmel.
FOTO 47. Baie tipies is die verplooiing en inkrimping van korrels in reaksie op donsskimmelinfeksie. Hierdie situasie word gewoonlik met die verdroging daarvan opgevolg.
FOTO 48. ’n Tipiese voorbeeld van korrels wat op ’n redelik gevorderde stadium met donsskimmel te doen gekry het. Let op die bruin verkleuring daarvan, wat later na swart omskakel.
’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika • 37
Donsskimmel.
FOTO 49. ’n Tafeldruiftros wat op ’n gevorderde korrelgroeistadium feitlik in geheel deur donsskimmel oorweldig is.
FOTO 50. Hierdie tros is in totaliteit deur donsskimmel vernietig. Let op die tipiese persagtige kleurskakering. Moet nie met sonbrand of suurvrot verwar nie.
38 • ’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika
Donsskimmel.
FOTO 51. Uitbundige swamgroei is op hierdie blomtros waarneembaar nadat dit oornag in ’n klam plastieksak by ’n matige temperatuur gehou is. In die geval van oïdium sal met sodanige “toetse” geen sigbare swamgroei voorkom nie.
’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika • 39
SWAMSIEKTES Streepvlek 2.3
I n teenstelling met oïdium en donsskimmel is die voorkoms van streepvlek by vatbare kultivars hoofsaaklik tot Wes-Kaapland beperk, waar dit gewoonlik met die aanbreek en verloop van die lente – dikwels in ’n sporadiese formaat en onder nat toestande – sy aanslag begin toon. Vanweë droë lentes word streepvlek in die somerreënvalgebiede normaalweg nie as ’n ernstige probleem beskou nie. Oorwintering geskied deur die vorming van vrugliggame in die basgedeeltes van aangetaste eenjarige of ouer hout of op dooie plantmateriaal wat op die grond lê. Ná benatting van hierdie vrugliggame deur reën, besproeiing, dou of mistige weer, word spore vrygestel wat op vatbare wingerdorgane beland en suksesvolle ontkieming onder toestande van ’n hoë relatiewe humiditeit openbaar. Alhoewel streepvlek dikwels as ’n minder ernstige probleem beskou word, kan dit vanweë skade wat onder bevorderlike toestande vir infeksie opgedoen word (onder andere ver- dwergde lootgroei en die doding van oë en lote), redelik spoedig in ’n akute probleem ontwikkel. Derhalwe is dit noodsaaklik dat deskundige advies in terme van suksesvolle beheerprogramme – veral oor die langer termyn – ingewin word. Die eerste tekens van streepvlek is gewoonlik op basale internodia van jong lote waarneembaar en word geassosieer met donkerbruin, lensvormige vlekke wat namate die vergroting daarvan tot lengtebarste, swart verkleuring en uitdroging van die weefsel aanleiding gee (Foto’s 52, 53 & 54). Normaalweg is hierdie barste redelik vlak en strek slegs so diep as die bas. Soms, veral tydens voortdurende nat toestande, is letsels as individuele entiteite minder opsigtelik, terwyl feitlik die hele lootomtrek of groot gedeeltes daarvan deur donkerbruin tot swart weefselverkleuring verteenwoordig word (Foto 55). Wanneer klimaatstoestande tot laat in die seisoen vir infeksie bevorderlik is, kan lote erg aangetas en verdwerg word, met gepaardgaande doding van oë en selfs lote (Foto 56), vandaar die Engelse benaming “dead-arm”. Soortgelyke letsels as dié op lote kom op trosstele voor, wat ook tot die ragis en ander dele van die trosraamwerk versprei (Foto 57). Sodanige situasies is gewoonlik aanleidend daartoe dat jong korrels van sekere trosgedeeltes swart verkleur en verdroog. Geïnfekteerde blaarstele en -hoofnerwe word ook aan letselvorming onderwerp, wat dikwels daartoe lei dat vaatbundels aangetas word en sekere blaardele aan uitdroging onderwerp word (Foto 58). Die voorkoms van streepvlek op blare word geassosieer met klein, swart stippels (met liggeel/wit sirkels omring) wat, indien talryk, ’n gekroesde en abnormale voorkoms aan bostaande verleen (Foto’s 59, 60 & 61). Blare aan die basale internodia word die ergste aangetas met ’n vermindering in intensiteit na die groeipunt van die loot (Foto 62). Die verskynsel dat apikale blare gesond vertoon, lei tot die valse illusie dat geïnfekteerde stokke met die verloop van die seisoen van die siekte genees is. Sou gunstige en bevorderlike infeksietoestande egter later weer opduik, word die uitdrukking van kenmerkende siektetekens op hoof- en sylote weer hervat wat bydraend tot afsterwing van toepaslike organe aanleiding kan gee.
40 • ’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika
Streepvlek.
FOTO 52. Kenmerkend van streepvlek is die voorkoms van lensvormige lengtebarste, bruinswart verkleuring en weefseluitdroging op basale internodia van jong lote.
FOTO 53. By hoogs vatbare kultivars is lengtebarste dikwels meer talryk en langer en nie tot slegs die mees basale internodia van lote beperk nie.
’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika • 41
Streepvlek.
FOTO 54. ’n Tipiese voorbeeld van swart weefselverkleuring wat met lengtebarste op basale internodia van Gamay noirlote gepaardgaan.
FOTO 55. In hierdie geval is feitlik die hele lootomtrek deur donkerbruin tot swart weefselverkleuring ingeneem, terwyl lengtebarste minder prominent vertoon.
42 • ’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika
Streepvlek.
FOTO 56. Die totale of gedeeltelike afsterf van lote kan voorkom as ’n uitvloeisel op erge streepvlek infeksie wanneer toestande tot laat in die seisoen daarvoor bevorderlik is.
FOTO 57. Die voorkoms van letsels (soortgelyk as dié op lote) op trosstele en ander dele van die trosraamwerk. In reaksie hierop kan jong korrels swart verkleur en verdroog, soos in die foto weerspieël word. Moet nie met vlamsiekte verwar nie.
’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika • 43
Streepvlek.
FOTO 58. Blaarstele deur streepvlek geïnfekteer kan daartoe lei dat vaatbundels sodanig aangetas word dat sekere blaargedeeltes aan uitdroging onderwerp word.
FOTO 59. Streepvlek op blare word geassosieer met die voorkoms van klein, swart stippels (met liggeel/wit sirkels omring) wat, indien talryk, abnormale karaktertrekke aan bostaande verleen.
44 • ’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika
Streepvlek.
FOTO 60. ’n Tipiese voorbeeld waar jong blare ’n gekroesde voorkoms begin openbaar, in samehang met tipiese donkerbruin, lensvormige vlekke op die lootgedeelte en swart weefselverkleuring van blaardele (links onder). Let egter daarop dat blaarverflentering (soos op foto) nie met streepvlek geassosieer word nie.
FOTO 61. Erg gekroesde blare in reaksie op streepvlekinfeksie.
’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika • 45
Streepvlek.
FOTO 62. ’n Kenmerkende voorbeeld weerspieëlend van erge aantasting van basale lootgedeeltes en blare met ’n beduidende afname in intensiteit van siektetekens in die apikale rigting.
46 • ’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika
SWAMSIEKTES Swartroes (antraknose) 2.4
A lhoewel die aanslag van swartroes op vatbare druifkultivars in WesKaapland sedert 1968 (met die aanvang van gereelde bespuitings teen donsskimmel) feitlik tot stilstand gekom het, bly dit van belang om op hoogte van karakteristieke kenmerke daarvan te bly – veral weens die vernietigende uitwerking wat op stokke met gepaardgaande oesverliese uitgeoefen kan word. Uiteraard is swartroes steeds problematies in veral die somerreënvalgebiede. Oorwintering geskied op geïnfekteerde hout – wat weer eens die noodsaak beklemtoon dat sodanige materiaal tydens snoei uit wingerde verwyder word. Tydens die lente wanneer klam, warmer toestande voorkom, word spore vrygestel wat tot infeksie van alle groen dele van stokke in staat is. Volgens die literatuur versprei swartroes stadig vanaf een stok na ’n ander aangesien spoorverspreiding hoofsaaklik deur water geskied. Soortgelyk aan donsskimmel vereis spore vrywater vir ontkieming, wat grootliks deur reën, besproeiing, dou en mistige weer daargestel word. Hoewel swartroes (soos streepvlek) dikwels as ’n minder ernstige probleem beskou word, kan ernstige skade nogtans aangerig word – veral tydens buitengewoon nat lentes en in gevalle waar dit reeds voorheen voorgekom het. Derhalwe is dit ook hier van belang dat deskundige advies in terme van suksesvolle voorkomings en beheerpraktyke ingewin word. Tiperend van swartroesinfeksie is die onreëlmatige verskyning op blare van liggrys vlekke (groter as dié van streepvlek) met rooibruin tot pers rande (Foto 63), wat in die geval van ouer blare aansienlike groottes met ’n dikwels kenmerkende ronde voorkoms kan bereik (Foto 64). By blaarstele en nerwe is die vlekke aansienlik kleiner en meer langwerpig (Foto 65). Skeuring en uitval van dooie weefsel uit die vlekke is baie kenmerkend, waardeur blare ’n stukkende (verflenterde) voorkoms aanneem – veral waar vlekke naby mekaar of aaneengeskakel voorkom (Foto 66). Op lote is vlekke aanvanklik klein en donkerbruin tot swart van kleur, gesonke in die middel met effens verhewe rande (Foto 67). Met verloop van tyd word vlekke groter, sluit by mekaar aan en is aanleidend tot inkrimping en vernietiging van weefsel waardeur lote gedood word (Foto’s 68 & 69). Sulke lote vertoon uiteindelik swart, droog en beskik oor ’n harde tekstuur. Alhoewel tipiese swartroesvlekke minder geaksentueerd op tros en korrelstele voorkom, kan jong trossies (selfs vóór blom) totaal inkrimp en afsterf (Foto 70). Ná set en korrelvergroting kom tipiese donkerbruin tot swart vlekke op trosstele voor (Foto 71) wat later tot die afsterf van die totale tros of slegs gedeeltes daarvan (wat deur die geïnfekteerde steel gevoed moes word), aanleiding kan gee. Die voorkoms van ronde vlekke met liggrys middelste gedeeltes en omkring deur donker rande is baie kenmerkend betreffende infeksie van ouer korrels (Foto 72). Hierdie verskynsel het die gepaste benaming van “birdseye rot” aan die siekte verleen.
’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika • 47
Swartroes (antraknose).
FOTO 63. ’n Tipiese weerspieëling van die onreëlmatige voorkoms van kenmerkende swartroesvlekke op blare. Moet nie met onkruiddoderskade verwar nie.
FOTO 64. By ouer blare kan vlekke (Foto 63) aansienlike groottes met ’n dikwels kenmerkende ronde voorkoms bereik.
48 • ’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika
Swartroes (antraknose).
FOTO 65. In teenstelling met die groteske tussennerfse voorkoms, is swartroesvlekke op blaarstele en hoofnerwe aansienlik kleiner en meer langwerpig.
FOTO 66. Skeuring en uitval van dooie weefsel uit vlekke is baie kenmerkend van swartroes, waardeur blare ’n verflenterde voorkoms openbaar.
’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika • 49
Swartroes (antraknose).
FOTO 67. Die aanvanklike voorkoms van swartroesvlekke op lote.
FOTO 68. Vlekke (Foto 67) word groter, sluit bymekaar aan en gee aanleiding tot inkrimping en vernietiging van weefsel.
50 • ’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika
Swartroes (antraknose).
FOTO 69. ’n Tipiese voorbeeld van weefselvernietiging waardeur lote in opvolging van swartroes infeksie gedood word. Moet nie met vlamsiekte verwar nie.
FOTO 70. Die totale inkrimp en afsterf van jong trossies (vóór blom).
’n Gids tot Wingerdabnormaliteite in Suid-Afrika • 51
Made with FlippingBook Ebook Creator