SATI Riglyne vir die Voorbereiding van Tafeldruiwe in Suid-Afrika vir uitvoer 2025/2026
Aksies volgens fenologiese stadium
Dormansie Snoei: Hierdie kultivar het lang internodes. Halflangdraers (8 oë) met 12–15 oë per m 2 . Gebruik waterstofsiaanamied ook in die Wes-Kaap.
Verbetering van bot: Vroeë toedienings van waterstofsiaanamied word nie aanbeveel nie. Spuit waterstofsiaanamied voor bot om uitbot te verbeter. Gebruik volgens die produk se registrasie. Bot tot blom 2 cm lootlengte: Begin met witroesprogram. Hierdie kultivar is gevoelig vir oogmyte, donsskimmel en streepvlek. Beheer proaktief gedurende die groeiseisoen. 10–15 cm lootlengte: Top dominante lote sodat lote met trosse almal min of meer dieselfde lengte by blom sal wees. Dien stikstof toe volgens groeikrag maar wees konserwatief. 20 cm lootlengte: Suier: verwyder lote sonder trosse. Hou een tros per loot. 80–110 cm lootlengte: Optimale lootlengte by blom. Blom tot set Dun natuurlik goed uit. Uitdunspuite word nie aanbeveel nie. Met baie warm toestande tydens blom en sterk groeikrag mag dit nodig wees om set te verbeter deur trosse te punt. Set tot deurslaan 5 mm korreldeursnit: Verwyder blare rondom trosse. Kort trosse in na 80–90 korrels per tros. Laat een tros per loot met ’n minimum deursnit van 10 mm. Los 55 000 trosse per hektaar. Dien stikstof toe volgens groeikrag. 6-8 mm korreldeursnit: Spuit 7.5 dpm gibberelliensuur vir vergroting in die Wes-Kaap. Herhaal na 3 dae. Spuit 15 dpm gibberelliensuur vir vergroting in die Oranjerivier. Herhaal na 3 dae. Gevoelig vir sonbrand en hitteskade. Wees versigtig vir direkte son op trosse en hantering van trosse voor deurslaan. Doen handuitdunning voor 12 mm korreldeursnit of na deurslaan. Begin met ’n magnesiumprogram om rouband te beheer, indien nodig. Deurslaan tot oes ± 20% van korrels sag: Daar is geen gevaar van sonbrand na deurslaan nie. Sny die nok van die prieel ongeveer 30 cm wyd oop en breek blare om meer eenvormige kleur- en suikerontwikkeling te bevorder. Hierdie kultivar kleur maklik in koeler klimate. Etefon kan teen ’n lae dosis in die Wes-Kaap aangewend word. In die Noord-Kaap en Limpopo word ’n hoër dosis etefon benodig. Verwyder trosse op swak lote. Oes tot pak Ideale suikervlakke met oes is 19–21 °Brix. Hanteer trosse versigtig. Oes op koue oggende in die Wes-Kaap kan barsies om die stingelaanhegting veroorsaak. Wees versigtig met hantering en voorverkoeling wanneer onder sulke toestande gepak word.
SATI RIGLYNE VIR DIE VOORBEREIDING VAN TAFELDRUIWE IN SUID-AFRIKA VIR UITVOER 65
Made with FlippingBook Annual report maker