SATI Riglyne vir die Voorbereiding van Tafeldruiwe in Suid-Afrika vir uitvoer 2025/2026

Die beginsels van snoei

Hoekom snoei? Snoei is die begin van die nuwe seisoen. By tafeldruiwe, in teenstelling met wyndruiwe, is presiese snoei uiters belangrik. Snoei is die eerste fase van oesbeheer. ’n Wingerd wat nie gesnoei word nie, ontwikkel baie lote, maar die lote groei swak en bot onegalig as gevolg van kompetisie. Derhalwe word ’n klomp trosse op swak lote gedra. Die gevolge is kleiner korrels, uitgestelde rypwording, swak kleur en, les bes, swak raklewe. Met snoei word gepoog om trosse op sterk lote te dra en ook om trosse oor die hele dra oppervlakte te verseker. By tafeldruiwe is dit belangrik dat trosse nie teen mekaar hang nie. Pasop vir gate in priële waar draers nie die oppervlakte dek nie. Die ideaal is dat alle lote waarop trosse gedra word ewe sterk en ongeveer 80–120 cm lank moet wees by blom. Trosse behoort nie op lote korter as 50 cm gedra te word nie. Sulke trosse vat langer om suikers en kleur te ontwikkel, selverval tree in en die uiteinde is verbruining en swak raklewe. Die tyd van snoei bepaal die oesdatum. Dit neem gemiddeld 142 dae van snoei tot oes, met verskille volgens die area en kultivar. In baie warm en vroeë areas en met vroeë kultivars kan die tyd aansienlik korter wees. In subtropiese gebiede (15° Noord of Suid van die ewenaar), soos dele van Peru, Brasilië en Indië, kan die tyd van oes gereguleer word volgens die snoeidatum en ander manipulasies. In hierdie gebiede gaan die wingerd nie in rus nie. Definisies van draers Die wingerdstok se drahout is eenjarige hout op tweejarige hout. ’n Kortdraer het twee ogies. Moenie die kraagogies wat rondom die basis voorkom, bytel nie. ’n Halflangdraer het 6–8 ogies. By die toepas van ’n halflangdraersnoeistelsel, word vir elke halflangdraer wat gelaat word op die stok, ook ’n kortdraer naby die basis van die halflangdraer gelaat, vir vernuwing in die volgende seisoen. ’n Langdraer het 12–14 ogies. By die toepas van ’n langdraersnoeistelsel, word vir elke langdraer wat gelaat word op die stok, ook ’n kortdraer naby die basis langdraer gelaat, vir vernuwing in die volgende seisoen.

12 SATI RIGLYNE VIR DIE VOORBEREIDING VAN TAFELDRUIWE IN SUID-AFRIKA VIR UITVOER

Made with FlippingBook Annual report maker