SATI Riglyne vir die Voorbereiding van Tafeldruiwe in Suid-Afrika vir uitvoer 2025/2026
Sitokinien Sitokinien is ’n plantgroeireguleerder wat natuurlik in plante voorkom en selverdeling bevorder. Sintetiese sitokinien kan in kombinasie met gibberelliensuur vir korrelvergroting gebruik word. Dit is besonder kragtig en toon indrukwekkende resultate selfs met lae konsentrasies (1–3 dpm). Dit maak ook korrels ronder. Wit druiwe bly groener van kleur, wat ’n voordeel kan wees vir sekere markte. Oordosering van sitokinien kan die oes vertraag, smaak nadelig beïnvloed en druiwe laat sukkel om kleur te ontwikkel. Op wit druiwe mag té hoë konsentrasies sitokinien aanleiding gee tot die ontwikkeling van sogenaamde “vlieëmis” of kurkagtige lentiselle (dooie huidmondjies). Klimaat speel ook ’n rol by die verskynsel. Sitokinien teen konsentrasies van 0.5–1.5 dpm in blom kan help om set te bevorder by kultivars wat geneig is om af te speen, soos byvoorbeeld Sugrathirteen (Midnight Beauty ® ) en IFG Ten (Sweet Globe™). Let wel dat sitokienbevattende produkte nog nie vir hierdie doeleinde op tafeldruiwe in Suid-Afrika geregistreer is nie. Etefon Etefon stel etileen vry wat rypwording versnel. Dit word gebruik om die kleur van rooi en swart kultivars te verbeter. Etefon word by die eerste tekens van kleur op baie vroeë kultivars en effe later (5% kleur) op later kultivars toegedien. Ten einde genoeg tyd toe te laat vir etefon om tot die aanvaarbare vlak, soos deur sekere markte vereis, af te breek, is dit nodig om dit baie vroeg op vroeë kultivars toe te dien. Sorg vir deeglike benatting en gebruik dit, soos by gibberelliensuur, onder stadigdrogende toestande. Neem die maksimum residu vereistes van spesifieke markte in ag wanneer etefon gespuit word. Wanneer etefon teen hoë dosisse in warm areas in die herfs aangewend word, sal dit stokke ontblaar. Let wel dat etefon nog nie vir hierdie doeleinde op tafeldruiwe in Suid Afrika geregistreer is nie. Absisiensuur Dit is ’n plantgroeireguleerder wat vir kleurverbetering by tafeldruiwe geregistreer is. Dit het ook ’n uitdunningeffek indien dit in blomtyd toegedien word. Samevatting Die ideale tafeldruifwingerd moet tydens oes slegs 5%–10% aktiewe groeipunte hê. ’n Oorgeil wingerd het tydens oes 60%–70% aktiewe groeipunte. Groeipunte wat omkrul dui veral op oorgeilheid. Die ideale lower (blaredak) moenie dikker as 50 cm wees nie (maksimum vier lae blare). Die lower moet in die middel van die dag slegs ongeveer 20% son deurlaat. Verder behoort ’n strook van minstens 30 cm breed aan die bokant van die prieel die son ten volle deur te laat. By ’n baie geil wingerd mag ringelering en top van lote voor blom en skouer en punt van trosse nodig wees om set te verbeter. Stokke moet nooit tydens blom en ringelering aan vogspanning blootgestel word nie. Die riglyne wat vir elke kultivar bespreek word, geld vir ’n wingerd met ’n normale groeikrag onder normale klimaatstoestande. Indien ’n wingerd baie geil is, mag manipulasies verskil van die normale aanbeveling. Elke produsent moet dus elke blok op eie meriete beoordeel en die nodige aanpassings maak. Dit is onmoontlik om ’n algemene resep te gee wat oral sal werk. Produsente sal ook bereid moet wees om op klein skaal op hul eie plase te eksperimenteer.
SATI RIGLYNE VIR DIE VOORBEREIDING VAN TAFELDRUIWE IN SUID-AFRIKA VIR UITVOER 11
Made with FlippingBook Annual report maker