SATI Riglyne vir die Voorbereiding van Tafeldruiwe in Suid-Afrika vir uitvoer 2025/2026
FIGUUR 2. Druiweblomme waarvan sommige nog kappies het en ander die vyf meeldrade wys. Erkenning: Gawie van der Merwe.
Gibberelliensuur Dit is ’n groeireguleerder wat natuurlik in plante voorkom. Die gibberelliensuur wat by druiwe gebruik word staan as GS 3 bekend. Gibberelliensuur stimuleer selvergroting. Wanneer dit teen lae dosisse in volblom toegedien word, bevorder dit die kunsmatige uitdunning van trosse (bladsy 7). Wanneer dit teen hoë dosisse by 6–8 mm korreldeursnit of later toegedien word, veroorsaak dit korrelvergroting. Die vorming van vrugbare ogies op die nuwe groen lote van die huidige seisoen (inisiasie en differensiasie) vind plaas vanaf blom en set tot ongeveer 10 weke na blom. Volledige bedekking met gibberelliensuurspuite tydens inisiasie en die eerste fases van differensiasie kan vrugbaarheid benadeel, veral waar die dosisse hoër as die aanbevole dosisse is. (Sien kultivarspesifieke riglyne en produk etikette.) Die elektrostatiese spuitpomp kan gebruik word om vergrotings te spuit sonder ’n nadelige effek op vrugbaarheid. Gibberelliensuur moet onder stadigdrogende toestande toegedien word. Te hoë toedienings van gibberelliensuur kan die raklewe van druiwe nadelig beïnvloed. Prof. Zoffoli van Chili het in sy navorsing gevind dat die kutikula verdun namate meer gibberelliensuur toegedien word. Die kutikula is ’n dun wasagtige lagie op die epidermis van ’n korrel wat dit beskerm. As gibberelliensuur op druiwe onder net gebruik word, moet die dosis met ongeveer 30% verlaag word. Dit is omdat die reaksie baie beter is onder net en die korrels dalk te groot kan word met ’n normale toediening.
10 SATI RIGLYNE VIR DIE VOORBEREIDING VAN TAFELDRUIWE IN SUID-AFRIKA VIR UITVOER
Made with FlippingBook Annual report maker