La Rochelle Yearbook 2025

165 YEARS CELEBRATIONS

Jaar van trots, tradisie en toekoms LA ROCHELLE – 165

Die viering van La Rochelle se 165ste bestaansjaar het soos ’n goue draad deur die jaar geloop. Oudleerders het in groot getalle teruggekeer, nuwe herinneringe is geskep, en oral op die terrein was daar ’n gevoel van trots, tradisie en hoop vir die toekoms. Die feesjaar is amptelik afgeskop met die onthulling van die 165-slagspreuk en -logo. Reeds in 1995 het mev. Longland-Heydenrych haar jaarbladbrief afgesluit met die woorde: “Soet klink ons die naam, La Rochelle.” Drie dekades later het dié woorde natuurlik die perfekte leuse vir ons mylpaaljaar geword. Een van die eerste groot hoogtepunte was die opening van Huis D.C. le Roux – ’n geleentheid waarin die koshuisouers ’n leidende rol gespeel het. In Mei is die Johanna Longland-Leersentrum vernuwe. Die ou rekenaarsentrum se lessenaars en stoele is vervang met moderne meubels wat die ruimte vars en aanloklik maak. Geliefde skilderye is herraam en uitgestal, en die aand is gekroon deur die Bring-’n-Boek-projek onder leiding van mev. Luzanne Oosthuizen. Eregaste het boeke geskenk waarin hul name vir altyd bewaar bly, en die rakke spog nou met ’n ryker verskeidenheid titels. ’n Besonderse oomblik was toe oudleerder, Caren Kearley, haar eie digbundel bekendgestel en dit met die gehoor gedeel het. Die feesnaweek in Augustus was ’n hoogtepunt op sy eie. Op Vrydag, 8 Augustus, het ’n spesiale saalbyeenkoms die toon aangegee: Die Klein Larries se seniorkoor en ons eie koor en orkes het opgetree. Lede van die Beauty and the Beast -musiekblyspel het Be Our Guest met

flair uitgevoer. Die Studenteraad se sorting hat -parodie het vir ligtheid en lag gesorg, terwyl oudhoofleiers van 2015, Marguerite van Eeden en Emma Cloete, hul hoërskoolherinneringe met die gehoor gedeel het. Mev. Christien Marais en haar ouer-liaisonspan het ’n elegante Vroueaand met die tema Black and Bling aangebied. Bekende televisiepersoonlikhede, Hannes van Wyk en Darren Green, het die 180 dames vermaak, terwyl die En Avant-sentrum gesprankel het onder pragtige versierings en ruikers wat spesiaal deur mev. Elsabé Conradie se moeder uit Cradock en mev. Marian Neethling versorg is. Die volgende dag, 9 Augustus, het sowat 260 oud-Larries, onder me. Adéle Bothma se leiding, die En Avant laat bruis met ’n gesellige reünie. Die geesdrif was só groot dat menige oudleerders selfs in die koshuis oornag het om niks van die feesnaweek mis te loop nie! Laastens het die herkweek van die Larrie-roos – oor spronklik vir die 150-jaarviering in 2010 ontwikkel – weer in die kollig gestaan. Mev. Cindy McFarlane het tydens die Kers- en Dankdiens ’n nuwe Larrie-roostuin ingewy – ’n simbool van groei en volhoubaarheid. Wat van hierdie vieringe oorbly, is nie net foto’s en herinneringe nie, maar ’n hernieude gevoel van verbon denheid en trots wat elke Larrie voorwaarts dra. Mnr. Frans Botha-Visser (Koördineerder: 165-jaarvieringe

18 | Hoër Meisieskool La Rochelle | Girls’ High School

Made with FlippingBook - Online catalogs