La Rochelle 2020

ONTLUIKENDE SKRYWERS 

DIE BONDEL My ma klop aan die deur en sê dat ek moet opstaan. My oë gaan stadig oop en ek staar na die plafon. Gravitasiekrag druk my neer en my bed klou my vas. My brein word stadig maar seker wakker en die oneindigende spiraal van gedagtes begin. Soos ek dieper in my bed insink, sink my gemoed ook. Ek is steeds gefassineer deur mense wat dadelik kan opstaan en hul dag begin. Hoe moet ek uit my bed klim as ek nie eers uit my kop kan “klim” nie? My ma sê altyd dat elke dag ’n goeie, nuwe geleentheid is. Ja, dit is seker, ’n geleentheid vir chaos, mislukkings en onsekerheid! Uiteindelik staan ek op. Ek trek my skoolklere aan en staar na myself in die spieël. Hoekom doen ek alles wat almal vir my sê ek moet doen? Hoekom is dit belangrik dat ek hier is en ’n “sukses” maak van my lewe? Ek beweeg stadig by die trappe af. Kombuis toe, groet my ouers en drink my koppie koffie. Die swaar bondel in my begin ook nou wakker word. Die vreemde gevoel in my lyf wat my naar maak – ek noem dit die “bondel”. Dit is alles in my lewe, goed of sleg, traumaties of gelukkig, in die hede of verlede, wat saamgebondel is en wat ek elke dag met my saamdra. Daar is dinge in die “bondel” waarvan ek nie eers bewus is nie, asook dinge wat ek nie verstaan nie. Wanneer mense vir jou sê dat die verlede in die verlede bly, moet hulle asseblief nie glo nie. Alles in jou verlede sal jou vir altyd bybly. Uiteindelik is ek by die skool. Dae wat ek dit nie kan verdra om myself te wees of na myself om te sien nie, gaan ek uit my pad uit vir dié wat ek lief het. Wanneer ek hulle kan help, voel my “bondel” ligter. In plaas daarvan dat my dag dan voel soos ’n groot boom wat ek moet klim, voel dit meer soos ’n glyplank: elke oomblik wat ek iemand help of gelukkig maak, gly ek verder af ondertoe. Alles het verander. Waar ek in laerskool vir my maatjies geld gegee het vir lekkers, gee ek geld vir sigarette. Waar ons apteek toe gegaan het vir hoofpynpille, gaan ons nou om swangerskaptoetse te koop. Dit vererger die gewig in die “bondel”, maar trek ook my aandag daarvan af. Almal se “bondels” groei en vererger. Ons moet die “bondels” van ander verdra en na ons eie omsien, want ons dra ons “bondels” saam met ons tot die dood toe. SUNET VERHOEF – GRAAD 12 DIT HET DIE GRENDELTYDPERK MY KOM LEER EN EK NEEM DIT SAAM OP MY LEWENSPAD Ons eie gedagtes berei die gif voor wat ons drink en steeds wonder ons; hoekom voel ons siek? Stres, onderdrukte emosies, moegheid, rusteloosheid, onsekerheid en angs kweek negatiewe gedagtes en gewoontes wat toksies is en ons geestelik siek maak en emosioneel uitput. Gedurende die tydperk van die Covid-19 pandemie was daar ’n seëning wat weggekruip het onder al die negatiwiteit. Die inperking was soos die wit kolletjie in al die swart van die ying-yang teken. Die inperking het ons besige lewens tot ’n stilstand gebring en tyd geskep vir die eenvoudigheid van lewe. As ons net die positiewe gedeeltes ingedagte hou, sal ons die noodsaaklikheid daarvan sien. Meeste mense sien inperking as ’n eensame tyd, maar al was ek alleen, was ek nooit eensaam nie. Soms benodig

ons net stilte en rustigheid om te dink, en ek het my gedagtes met ope arms verwelkom. Ek het tyd gehad om die filosofiese vrae wat my pla, oop te kloof tot in die kern en behoorlik te deurdink. Bo alles was daar tyd om welverdiende rus te kry. Teen die begin van die inperking was ek onsettend moeg, maar slaap was nie die antwoord nie. Die antwoord het my ’n tydjie gevat om te ondek; daar is twee tipes moeg: die een waar jy slaap benodig en die ander een waar jy vrede benodig. Die alleentyd het my rustig gemaak sodat al my innerlike emosies en probleme oppervlak toe kon kom. Ons raak so moeg om emosies te onderdruk; dus moet ons dit laat uitkom en verwerk, sodat ons innerlike vrede kan vind en uiteindelik kan rus. Die grendeltydperk het my geleer dat om alleen te wees met my gedagtes en emosies noodsaaklik is om innerlike vrede te vind; sodat ek kon rus en ontslae raak van die toksiese konkoksie waarin my gedagtes rondgeswem het. #JERUSALEMADANS “Jerusalema ikhaya lami Ngilondoloze, Uhambe nami Zungangishiyi lana Jerusalema ikhaya lami Ngilondoloze,Uhambe nami Zungangishiyi lana” “Jerusalem is my huis, beskerm my, loop saam met my, moet my nie hier los nie.” Dié refrein wat deur die lied en oor die wêreld heen weerklink, spreek boekdele vir elkeen van ons. Oor die laaste paar maande het hierdie lied deur verskeie luidsprekers regoor die wêreld gesing. Met die oorspronklike video het die Jerusalema lied meer as 123 miljoen kykers gelok en lande aan die dans gesit sonder dat ons werklik iets van die lied se oorsprong weet. Die dans het eers bekend geword nadat ’n groep dansers in Angola ’n hupstoot aan die lied gegee het en dit op sosiale media gedeel het; van daar af het dit soos ’n veldbrand oor sosiale media heen versprei. Duisende, diverse individue oor die wêreld heen is al deur hierdie lied verenig. Die hoofkunstenaar, Kgaugelo Moagi (Master KG), kom self uit Suid-Afrika, waar hy van jongs af musiek in die gemak van sy eie slaapkamer gemaak het. Met die COVID-19 pandemie, wat ons 2020-jaar onkant gegooi het, is hierdie lied vir elkeen ’n geskenk. Dit is ’n pakkie positiwiteit gegee aan elke persoon wat daarna luister. Al weet ’n mens nie eens wat die woorde beteken nie lig dit jou gemoed en stel jou dadelik positief in. ’n Mens sien op sosiale media – veral Facebook – hoe verskeie lande, onder andere Swede, Frankryk en Kanada hierdie dans op die dakke van geboue uitvoer. Op hierdie stadium sukkel afdelings soos sport en kultuur met die pandemie, maar hierdie lied het vir mense nuwe lig in die donker tonnel laat skyn. Ons almal kon verenig en die vreugde deel – al was dit op ’n sosiale afstand. Die Larries het self hierdie dans aangepak en van oor tot oor geglimlag. Met die grasgroen astro onder ons voete versprei, dans ons met vreugde en trots. Al is 2020 ’n jaar wat ons nooit onsself sou kon verbeel nie is daar tóg nog hoop vir die toekoms. BIANCA VAN DER WALT – GRAAD 9 Dit neem ek saam op my lewenspad. CHARLIE ENGELBRECHT – GRAAD 10

2020 | 160 • 45

Made with FlippingBook Online newsletter