Boishaaier 2018

Mnr. D Louw en die koor

Sangfees in Paarl Stadsaal, 1949

Vioolklas 1937

Met die skoolhoof, mnr. SJ Malherbe (1e ry, 6e van links) en HJS se eerste musiekonderwyser, mnr. A du Toit (1e ry, 7e van links)

Die geesdrif vir sang en musiek....

Viva la Musica

Toe mnr. SJ Malherbe (1924 - 1940) die hoofskap by Hoër Jongenskool aanvaar, was een van sy groot wense dat al die Boishaai-manne sal leer om musiek te waardeer; en musiek te maak. Hy stel dit so: “Ons glo aan die skone kunste - musiek, voordrag, ens. – as opvoedingsmiddel en doel veral by ’n Jongenskool.” Mnr. Malherbe se eerste plan van aksie word reeds in 1925 geïmplementeer, toe weeklikse sangklasse vir almal in die sekondêre fase ingestel word. In sy jaarverslag van 1926 rapporteer hy dat hierdie klasse vrugte afwerp. Hy haal voorts ook die inspekteur aan, wat opgemerk het: “a keen interest throughout the school is very evident – the singing showed a great improvement since my last visit.” Gedurende die derde kwartaal van 1926 gee die pasgestigte skoolorkes, ook onder leiding van mnr. Malherbe (met me. Malherbe wat op klavier begelei) hul eerste uitvoering ter afsluiting van ’n geleentheid waar CJ Langenhoven die spreker was. In 1933 word die eerste kultuurkwartaal by die skool aangebied, en in 1937 word die talentvolle oudskolier, mnr. Aldert du

Toit (matriek 1933) aangestel as eerste musiekonderwyser. ’n Uittreksel uit ’n dagblad besing mnr. Du Toit se lof soos volg: “Die geesdrif vir sang en musiek aan die Hoër Jongenskool moet grootliks toegeskryf word aan die ywer en bekwaamheid van mnr. Aldert du Toit, die sang- en musiekonderwyser, wat baie bekend in Paarlse musiekkringe is.” Hy was ook die dryfkrag agter die uiters gewilde HJS-Boereorkes, tussen 50 en 60 man sterk, wat by talle danse en ander funksies die trekpleister was. In 1947 is hulle ook uitgenooi om in die SAUK-ateljee te gaan speel. Dit blyk dat alles wat mnr. du Toit (of oom Allie, soos hy gou bekend gestaan het) aangepak het, groot suksesverhale was. Met die sangfees van 1949, byvoorbeeld, kon Dods Miller van die SAUK nie uitgepraat raak oor wat hy alles gehoor het nie, en is ’n deel van die fees ’n paar weke later oor Kaapstad se radiostasies uitgesaai. Ene V White (std X) skryf in die 1949-jaarblad: “Heelwat kiekies is geneem en die finale een [item] van die HMS en HJS-koor was baie goed. Later word daar glo ’n artikel geskryf oor ons skool se musiek en van die kiekies sal ook dan te sien wees. Die plaatopnames

wat gemaak is, is verlede Maandagaand, 10 Oktober, oor die radio uitgesaai.” Met so ’n indrukwekkende CV was dit ’n groot slag toe oom Allie in 1955 saam met die laerskool aftrek na Devinestraat. Maar in 1958 stel HJS vir Danie Louw (ook die orrelis van die Strooidakkerk vir meer as dertig jaar) aan om die goeie grondslag wat gelê is, verder te voer. In 1976 word mnr. Pierre (beter bekend as Tchai – kort vir Tchaikovsky) Potgieter aangestel en binne een jaar groei die musiekdepartement van sewe leerlinge na ’n astronomiese 89! Sy klasse was ’n belewenis en hy was baie gewild onder die seuns. Oudskoolhoof Tom Engela skryf van Tchai se sangklasse: “Met sy knie teen die klavier vasgedruk, sy lewendige oë op die seuns gevestig, sy besige vingers warrelend oor die klawers – en ’n rokende swart sigaartjie in die hoek van sy mond, het hy homself telkens aangemoedig met die flambojante uitroep: ‘Besonder bedonderd!’” Onder leiding van Tchai Potgieter (en met mnr. Engela se ondersteuning) word die skoolkoor en -orkes in 1976 herstig. Die orkes sou voorts as blaasorkes funksioneer.

BOISHAAIER 2018 / Musiek / Viva la Musica

82

BOISHAAI 150 YEARS

Made with FlippingBook Online newsletter