Boishaaier 2018

Ons is nie alleen nie … Ons is die kinders met verbleikte name. Ons is die kinders wat verdwyn tussen die skare. Ons is die kinders wat altyd raak gesien word as ’n enkele ding, maar eintlik is ons soveel meer … Ons is die kinders wat elke oggend die stilte van die verwaarloosde skool- gange waardeer, die kinders wat die gillery en gekletsery van die alledaagse uitsny, die kinders wat mekaar in die dowe stilte raaksien. Ons is die kin- ders met onsigbare passie. Ons is die kinders wat agter in die hoek sit en boeke lees. Ons verdwyn na ’n gedagtewêreld van kreatiewe denke, idees en verhale. Die blaai van elke bladsy stimuleer ons (ir)rasionele denkwyse, al dink hulle ons is van ons sinne beroof. Ons is die kinders wat op ’n Saterdagmiddag eerder die asemrowende reuk van vars koffiebone wil beleef, as om die nuutste gier te omhels. Ons verval na ’n persoonlike ruimte, waar ons droomwêreld oorneem en meer troos verskaf as die onomkeerbare realiteit. Ons is die kinders wat meer ruik, proe, hoor, sien en voel as die meeste ander, sonder om die gemak van die koffie en die boek te verlaat. Ons is die kinders wat op ’n Maandagoggend eerder die sonsopkoms sal raaksien, as om oor die naweek se rugbywedstryd te praat. Ons is die kin- ders wat luister voor ons optree. Ons is die kinders wat as stil, terugge- trokke en vervelig voorkom, maar agter dié laag lê daar ’n passie vir die lewe. Ons hoor hoe raas die stilte. Ons is die kinders wat lawaai maak in ons gedagtes. Ons is die kinders wat weet wie ons is. Ons weet wat ons doen, hoe ons is en dat hoe ons voorkom, nie vir ander aanloklik is nie. Ons is die kinders wat op ander maniere funksioneer. Ons is van ander sagteware saamgestel en ons besef dit. Ons besef dit en probeer nie onsself aweregs program- meer om die behoeftes van ander te bevredig nie. Ons is die kinders wat tevrede is met wie ons is. Ons is die kinders wat verdwyn in die skare. Ons is die kinders met ver- bleikte name. Ons is die kinders. Ons is die … Ons is. Ons … ons is nie alleen nie. HENRICUS BASSON (GR. 12B) My laaste lied vir Ouma Ek sit op die klavier se stoeltjie en knak my vingers. Ek blaai deur my sang- boekie op soek na ’n sekere liedjie. Ek sien hoe vroetel Ouma op die stoel langs die klavier om gemaklik te word. Sy wou hê ek moet vir haar nog een lied speel, en ek het besluit op Beethoven se “Good Times”, wat sy mooiste en moeilikste lied is. Ek vind die liedjie en sit terug op die stoel. Ek bewonder die Reming- ton-klavier een laaste keer voor ek speel. Ek vryf my vingers oor die note en kry hulle in die regte posisie. Ek haal diep asem, en speel die eerste noot. Die musiek begin rustig. My oë is gefokus op die ingewikkelde note voor my. My hart klop hardop op die ritme van die klavier. Uit die hoek van my oog sien ek hoe Ouma met haar oë toe sit en haar voet ritmies op die vloer tik. Ek kry ’n warm gevoel in my hart en is verleë dat sy dit geniet. Ek dink terug aan toe my en Ouma se verhouding begin het. Sy woon ’n uur weg van my ouerhuis af en 40 minute na my ouers se dood in ’n motorongeluk was sy by die voordeur. Sy het my getroos en ’n drukkie gegee. Sy het niks gesê nie, my net vasgehou. En het ek geweet ek gaan oukei wees. Die melodie word vinniger en harder. My vingers gly gemaklik oor die note, sonder dat ek daaraan dink. Ouma glimlag nou en knik haar kop. Dit is die perfekte dansmusiek, en ek is seker as Ouma 20 jaar jonger was, sou sy nou opgespring het en haar lyf swaai. Sy het ook so geglimlag toe ek my eerste liedjie op die klavier gespeel het. Ouma het vir my geleer. Ek was nie baie goed nie, maar Ouma was geduldig en passievol. Toe ek klaar was met “Mary had a little lamb”, was Ouma oortuig dat ek eendag ’n wêreld- beroemde klavierspeler gaan wees. Die liedjie bereik nou amper sy klimaks. Dit is die moeilikste deel van enige lied. Ek speel soos ek nog nooit gespeel het nie en gebruik sommer my hele lyf. Die klank vul die hele vertrek. Ek voel skielik hartseer, maar dit motiveer my net meer. Ek sien Ouma in my gedagtes. Sy lê in die hospitaalbed waar sy die afgelope week was. Ek staan weer in die gang en probeer om nie te skree toe die dokter vir my sê sy het net een week oor om te lewe nie. Dit was presies ’n week terug. Ek speel die laaste, sagte noot, ’n bietjie langer as wat ek moes. Ek is som- mer uitasem. ’n Traan drup op die klavier. Ek snuif en vee vining my wange af. Ek kyk na Ouma en my hart stop. Sy lê met haar oë toe en haal nie meer asem nie. Net ’n groot glimlag op haar gesig. ALEXANDER KRUGER (GR. 11E)

Eenvoud is die vreugde van die lewe. Dis gee en neem wat daar is. Dis waarna die meeste soek, maar wat die minste vind. Hoe meer jy daarna soek, hoe verder weg beweeg jy. Jy weet nie werklik waarna jy op soek is, totdat jy dit vind of besef jy het dit gemis nie. Dit wag om elke hoek en draai, maar jy is bang as jy stop, hardloop “dit” vir jou weg. Wat is dit? Ek het al baie gewonder wat is dit van die see dat mense daarna kan staar tot in lengte van dae, dat jou gedagtes vlerke vind en dwaal oor verre kran- se en diepe klowe. Jy weet nie wat in die dieptes van die oseane ronddwaal nie, maar dit pla jou nie. ’n Deining rol oor die see, dit styg, raak al hoe skerper, val, rol uit oor die sand, en kruip weer terug. Heen en weer, oor en oor. So eenvoudig, dog so kragtig. Wat is dit van die son wat sak oor die vaal grasvelde wat ’n mens tot in jou siel kalmeer? Die veld waar ’n seun se oë verdwaal tussen die sterre met die brandende hout wat kners in sy ore, soveel so dat selfs hy nie eers wil hê die hout moet uitbrand vir ’n vleisie nie. Van buite af lyk die bos so ingewik- keld, maar in die midde van sy prag is daar niks meer eenvoudig nie. Elke voëltjie ken sy fluit, elke seekoei sy poel, elke bokkie sy grassie en indien iets dit wil verander, bly die sterkste staan. Dis in die veld waar ’n mens die kleinste voel, maar ook al plek waar dit jou nie pla nie. Die mensdom ontwikkel konstant met die persepsie dat ontwikkeling ge- lykstaande is aan groei, dat vinniger gelykstaande is aan makliker en dat geld gelyk is aan elke oplossing. Die kolonialiste het die primitiewe same- lewings kom “beskaaf” maar die man met sy boog en kalbas het ’n dieper begrip oor die lewe gehad as wat die geweer en veerhoed ooit kon verstaan. Ek neem van die stroompie en van hom wat daar wei, maar net genoeg, want dit is tog hulle wat my aan die gang hou. Eenvoudig, dog effektief. Almal is so gejaag na hulle eie persepsie van vreugde dat hulle heeltemal verby die bron daarvan hardloop. Die man op die straathoek, die man in jou tuin – dit is die halwe-tande-glimlag wat die diepste snare aanraak en wanneer jy daardie warm gloed in jou bors voel en dit by jou oë voel uit- straal, klou vas, want dít is vreugde. GERARD DE LA BAT (GR. 12E) Mosterdsaadjie “Waantoe gaan die wêreld? In my dae was dit nie só nie. Die mense het op hulle voorstoep gesit en met die bure gesels. Sondae was die kerk vol en as jy net daaraan gedink het om sandale te dra, sou die dominee jou persoonlik verwyder het. Dinge was goed en reg in die wêreld, maar nou! Nee, Boetie, ek weet nie meer nie. Waantoe gaan die wêreld?” Almal ken dié stem. Dit kom dalk uit verskillende monde, maar dit laat dieselfde gedagte na. Ongelukkig, met die oog op die realiteit, is die stem nie van ver af nie. Ons word daagliks omsingel deur stories en dade direk van die bose. Gruwelmoorde laat ontwaak die diepste verse in die harte van ouers en gereelde verkragtings maak ’n mens bewus van die siek, onmenslike dierasies daar buite. Korrupsie speel met die massas se lewens en alle tipe “-ismes” besoedel ons wese. Die realis weet waarnatoe gaan die wêreld en hy hoop en bid sy tyd is verby voordat die wêreld sy bestemming bereik. Die wêreld uit die oë van ’n agtienjarige, indien dit nie op pornogra- fie vasgenael is of deur dwelms van sy funksionaliteit beroof is nie, lyk steeds droewig. Al waaroor die meeste dink, is geld en diegene wat ’n beter lewe misgeloop het, word gou ontmoedig. Enige hoop vir ’n verskil-maak word weggetrap deur onophoudelike kritiek en vernedering. Jong mense word gestamp en gestoot totdat hulle besef: die wêreld is wat dit is, ek moet oorleef. Dan is daar die wêreld deur die oë van ’n gelowige. Hierdie oë sien die realiteit, beleef die onheiligheid, maar glo nie net in dit wat hy kan sien nie. “Met die geloof die grootte van ’n mosterdsaadjie kan jy berge verskuif.” Hoe kan ’n gelowige ooit vasgevang word in die denke van die wêreld as hy weet net een saadjie is nodig? Uit een saadjie groei ’n pluimpie in die kraak van ’n ou vegtende bom en sy wortels kraak die teer vir ander om deur te breek, want daar lê baie net onder die opper- vlak. Al wat ons kort, is een oomblik, een woord, een saadjie. Die oë word baie keer beskryf as die vensters van die siel. En daar, in die diepste wese van ’n gelowige, glimlag sy gees, want hy glo in iets selfs sterker as hoop. Hy glo in glo. GERARD DE LA BAT (GR. 12E)

BOISHAAIER 2018 / Kreatiewe Skryfwerk / Creative Writing

105

BOISHAAI 150 YEARS

Made with FlippingBook Online newsletter