Boishaaier 2021

Imh o f f

Imhoff

Imhoff-koshuis vier 100 jaar van glorieryke bestaan.

Imhoff-koshuis het in 2021 die 100ste bestaansjaar van hierdie tradisieryke koshuis gevier. Alhoewel die Covid-19-pandemie in 2020 tot groot ontwrigting gelei het en ‘n groot demper op die huis se eeufeesvieringe in 2021 geplaas het, het die inwoners se harte brandend gebly vir die geborge omgewing van die “Republiek van Imhoff”. Die oorspronklike Imhoff-koshuisgebou is in 1920 aangekoop en tot koshuis getransformeer op ‘n perseel in die omgewing naasliggend tot die huidige swembadruimte. Imhoff-koshuis, soos dit vandag bestaan, is in 1960 in Auretstraat voltooi en daarna as Hoër Jongenskool se koshuis met die grootste inwonertal in gebruik geneem. Hierdie sogenaamde Nuwe Gebou het met verloop van tyd in tandem met die inwoners van die Ou Gebou gestalte gegee aan ‘n formidabele koshuismilieu en het ‘n beduidende rol as gerekende pasaangeër op die koshuiskampus van Hoër Jongenskool gespeel. Verskeie huishoofde en diensdoeners speel met verloop van tien dekades ‘n integrale vormingsrol in die lewe van menigerlei bewoners. Die koshuis lewer derhalwe dan ook met verloop van tyd verskeie bewoners op wat later jare op haas elke terrein van die samelewing uitblink. Oudbewoners herleef steeds die genoeglike jare in Imhoff en die geskiedenis van die huis is deurspek met staaltjies oor bepaalde insidente, anekdotes van wedervaringe en herinneringe aan toentertyd se inisiasiepraktyke.

Die Imhoff-kultuur word van die vroegste jare af geken vir sy bewoners se verbintenis tot uitnemende akademiese prestasie en ‘n aktiewe deelname aan ‘n verskeidenheid van sportaktiwiteite. Die huis is histories bekend vir sy uiters mededingende deelname aan die interhuiskompetisie. Die koshuis verwerf veral bekendheid vir sy besondere esprit de corps en hegte, lewenslange broederskapsbande wat deur elke jaargroep gevorm word. Hierdie tradisionele eenheidsbelewing plaas Imhoff-koshuis sentraal in die algemene en unieke gees van Hoër Jongenskool. Die gedagtegang is dan ook oor baie jare gevestig dat die wel en wee en suksesse van Imhoff-koshuis direk neerslag vind in die breë geheel van Hoër Jongenskool se voorspoed. Imhoff-seuns word steeds vandag geleer en aangemoedig om getrou te bly aan die skool se drie tradisies van goeie gedrag, goeie leerlingskap en goeie sportmanskap. Hierdie drie tradisies word verder onderskryf deur die Imhoff-huismanifes wat gedurende 2021 geformuleer is om as rigtingwyser in ‘n veranderende wêreld gebruik te word.

M Theron Koshuisvader

4 BOI SHAAI 153 YEARS

Made with FlippingBook Digital Publishing Software