BOISHAAIER 2016

Creative Writing CREATIVE WRITING

DIT WAS DIE AAND BY DIE SOKKIE Henro Carstens (Graad 8E) Kyk, ek is nie die wêreld se beste danser nie en my vriende het gesê hulle gaan spesifiek by die sokkie kyk wat my dansstyl is. Ek wou natuurlik by die huis bly, maar nee, groepsdruk wen mos altyd. En toe ek my weer kom kry, staan ek in my beste klere by die sokkie en wonder wat op aarde ek daar doen. Ek was nog besig om van die vrugtepons in te skink, toe een van die meisies in my klas aan my arm trek en vra of ek met haar sal dans. Natuurlik wou ek nie, maar die ander ouens het almal na my gestaan en kyk en geen man laat so ’n openlike uitdaging by hom verbygaan nie. Ek en Lida is toe na die dansvloer en die musiek begin. Ek het nie mooi geweet of my linkervoet of regtervoet in die lug moet wees nie. Toe fluister Lida in my oor dat ek net haar bewegings moet volg. Van daar af het dit só goed gegaan dat ek háár vir nog ’n dans gevra het toe die musiek ophou. En ons het net aangehou met dans. Heelaand. Om die waarheid te sê, ek was spyt toe die sokkie tot ’n einde kom. Ek sou nooit kon dink dat om met ’n meisie te dans só lekker kon wees nie. En toe verstom Lida my en my vriende deur my met ’n soentjie vir ’n heerlike aand te bedank. As ek aan my ouma dink, dink ek aan ’n persoon wat gaaf en liefdevol is. Iemand wat rêrig omgee. My ouma maak dié absolute beste van elke liewe dag. Sy versprei warm liefde orals waar sy gaan. Sy gee rêrig om. Die reuk van haar warm, varsgebakte soetkoekies wat so pas uit die vuurwarm oond kom, oorval my as ek by haar huis instap. En raai wat, sy maak nie net vir my nie, sy skenk sommer baie aan liefdadigheid. Sy gee rêrig om. Sy is altyd daar as ek hulp kort. Selfs vir die kleinste dingetjie gaan sy uit haar pad uit. Soos byvoorbeeld Afrikaanse huiswerk of ’n klaviernoot of toonleer waarmee jy sukkel. Sy gee rêrig om. Sy is altyd langs die rugby-, hokkie- of sokkerveld. Selfs by die koorfees sal sy in die skare wees. My karategevegte sal sy nie vir die wêreld misloop nie. Ek hou baie daarvan dat sy daar is. Sy gee rêrig om. Sy sê haar plooie is wysheid en die stories wat sy vertel, is net ’n bewys daarvan. Sy leer my baie lewenslesse. Sy gee rêrig om. My ouma is dié beste, gaafste, liefste, mooiste, vriendelikste en goedhartigste persoon wat ek ken. Ek is baie lief vir haar en … ek gee rêrig om vir haar. AS EK AAN MY OUMA DINK … Liam van Wyk (Graad 8E)

DIT MAAK MY SKOOL BETER AS JOUNE. Darren Minnies (Graad 12A) Dit gaan nie oor die besonderse rugbyreputasie nie. Dit gaan ook nie oor die aangrypende krieketspel nie. Inteendeel, dit gaan glad nie oor die sport nie, ook nie die indrukwekkende akademiese standaard en prestasies nie. Dit het niks te doen met die feit dat my skool ingesluit is by die top-5 beste skole in die land nie. O nee, dit gaan oor baie, baie meer as net dit. Al hierdie spoggerige prestasies waarvan julle hoor is die eindproduk van die geheime Boishaai-resep wat al vir 148 jaar egte here kweek. Julle sien die blou baadjies nou en dan in die publiek - by rugby- en hokkiewedstryde of dalk dorpsdae – en ja, ons weet van julle, met julle klaar getikte, ewig-klaende e-posse, reg om vir die skoolhoof of prokureur te stuur. Nou wag julle, geduldig. Ons sien hoe julle vir ons soos valke dop hou - wag net vir ons om een ou glipsie te maak. Ongelukkig is ons weereens op ons beste gedrag. Ons is wel dankbaar vir die mense wat wil hê ons moet val – julle is ons motivering om aan te hou doen wat ons vir die afgelope 148 jaar doen. Ons sien ook hoe elke liewe nie-Boishaaier met groot oë, gevul met bewondering en admirasie, hulself aan die blou engeltjies verkyk. Dit is duidelik almal soek ’n blou baadjie … maar dit is nie net enige eenvoudige blou baadjie nie. Dit is baie meer as nét ’n blou baadjie. Vir party mense blink die skool van buite … maar julle weet nie wat hier binne aangaan nie. Julle dink julle weet wat op Boishaai se eiland aangaan, maar as jy nie deel van die blou familie is nie, sal jy dit nooit kan begryp nie. Alhoewel sport ’n groot rol in die skool speel, is dit nie die skool se “X-FAKTOR” nie. Elke punt, oorwinning, trofee, toekenning, of prestasie beteken vir ons baie, maar dit is nie wat die lewendige, testosteroongevulde atmosfeer in die skool skep nie. Dit is nie wat dit so spesiaal maak nie. Dít is nie wat die plek in my hart ingeneem het nie. Dit gaan soveel dieper as oppervlakkige toekennings en prestasies. Dit is die proses waardeur almal gaan. Die Boishaai-groeiproses wat jou reg maak vir die nare en onvergeeflike wêreld daar buite. Als begin by die begin, terwyl jy nog ’n twygie is wat ons kan buig, en vorm. Jy leer dat dit die kleinste goedjies is wat die grootste verskil, en die meeste saak maak, soos om altyd ’n netjiese voorkoms te he, om op te staan vir jou seniors, en om respek te toon teenoor jou medemens. My bors swel met oorweldige trots wanneer ek die eenheid tussen die graad 8’s sien vorm nadat hulle saam deur die pyn en lyding moes deurdruk. Dit gaan oor die soeke na identiteit. Dit is die fisiese, en sielkundige groeiproses van ’n onbewuste jong man in ’n onbekende en gebroke wêreld. Dit is die diversiteit en uniekheid wat uitstraal in elke leerder waarmee jy in aanraking kom. Dit is die ruheid, en die effense onvanpaste onderlangse grappies tussen pelle. Ek prys die oorspronklikheid, en individualiteit van my medeleerders. Ek bewonder ook die pretensielose omgewing wat geskep word, en die egtheid van sommige mense. Sy argumente, bakleierye, hofsake, verskille van opinies… Sy sterk weerstand en teenstand om aan die “sosiale aanvaarbare” vereistes van die steeds veranderende wêreld te voldoen. Ongeag al ons innerlike, uiterlike, fisiese, en verbale konflik, sal ons altyd bymekaar kom en saamstaan as een … en dit is ’n broederskap, ’n verhouding, ’n leefstyl,’n tipe liefde wat nie eers ’n taalkundige sal kan beskryf nie. En na vyf jaar is dit nie waar dinge eindig nie. Dan word jy amptelik deel van ’n internasionale broederskap wat altyd twee treë agter jou sal wees. Ons lag saam, ons werk saam, en ons huil saam. Al verlaat jy die vier hoeke van die skool aan die voet van Paarlberg gebou, sal jy altyd ’n huis hê om na terug te keer – ’n huis vol vreemde mense, verskillende kleure, tale, en kulture, maar julle harte klop almal blou bloed, en julle leef almal in, en vir die blou baadjie. “Waar die eikebome blaar, en die skool se seuns baljaar, dis die Hoër Jongenskool en verewig sal dit jou huis bly”

2016 PAARL BOYS’ HIGH SCOOL | 71

Made with FlippingBook Online newsletter creator