BEMESTINGSRIGLYNE VIR DIE WYNBEDRYF

GRONDMONSTERNEMING

Die doel van grondmonsterneming en grondanalise is: • om grond te karakteriseer ten einde praktyke vir kunsmis- en kalktoediening aan te beveel • om die waarskynlikheid van ’n winsgewende reaksie op kunsmistoediening te voorspel • om grondvrugbaarheid te evalueer • om te bepaal watter spesifieke grondtoestande verbeter kan word deur die toediening van grondaanpassings, en • om wanbalanse in voedingstofkonsentrasies te bespeur en reg te stel. Die belangrikste voordeel van grondanalise is waarskynlik die vermoë om veranderings in grondvrugbaarheid te monitor ten einde korrektiewe aksie toe te pas voor voedingstres voorkom. Grondanalise is noodsaaklik voor grondvoorbereiding om te verseker dat fisiese en chemiese defekte reggestel kan word tydens voorbereiding. Gereelde analise word benodig in bestaande wingerde om te verseker dat optimale groeitoestande gehandhaaf word. MONSTERNEMING VIR GRONDVOORBEREIDING: Profielgate word benodig om die fisiese/morfologiese karaktereienskappe te evalueer en om die grense van bestuurseenhede te bepaal. Vir kleiner kom mersiële areas, behoort monsterneming op ’n roosterpatroon van minstens 50 m X 50 m te geskied. Indien die aanvanklike grondevaluering laat blyk dat groot grondverskille tussen punte voorkom, moet meer gate gegrawe word om te bepaal waar die grondoorgange is. Voor monsterneming begin, moet die perseel in verskillende verbouingseenhede verdeel word. Hierdie eenhede is areas wat soortgelyke bestuur sal vereis, gebaseer op grondvorm, diepte en die voorkoms van growwe brokstukke. Aparte monsters word versamel van elkeen van hierdie verbouings-/bestuurseenhede en monsters van die verskil lende profielmonsternemingspunte binne dieselfde eenheid mag gemeng word ten einde verteenwoordigende monsters vir die bepaalde bestuurseenheid te verkry. Die diepte/dikte van die verskillende horisonte/lae, asook die beraamde growwe fraksie moet aangeteken word. Vir grondvoorbereiding vir wingerde is dit wenslik om monsters apart te versamel vanuit die bo- en ondergrond. Dit is dikwels ook wenslik om onderliggende kleimateriaal apart te monster, aangesien soute opwaarts kan beweeg na die oorliggende grondlae tydens droë periodes. Die diepte van monsterneming moet aangedui word. ’n Monster van 1 kg is voldoende.

2

9

Made with FlippingBook Annual report maker