BEMESTINGSRIGLYNE VIR DIE WYNBEDRYF

Inleiding

’n Bemestingsriglyn-handleiding vir wingerd het in 1994 die lig gesien (Conradie, 1994). Dié handleiding bied ’n stewige basis vir die bedryf maar na 20 jaar is dit so dat nuwe inligting oor bemesting van wingerd hetsy nasionaal of internasionaal beskikbaar raak. Die behoefte het gevolglik ontstaan dat die wingerdbemestingshandleiding van 1994 hersien moet word sodat nuwe navorsingsresultate wat verskyn het of sienings wat verander het binne die handleiding geïnkorporeer kan word. Uiteenlopende aanbevelings in die wynbedryf, veral tussen verskeie adviserende maatskappye, wat gebaseer is op verskillende ontledingsmetodes, norms en beginsels, het ontstaan wat Winetech genoop het om hierdie hersiening te regverdig. Daar word met hierdie hersiening gepoog om geloofwaardige besluitnemingsgereedskap daar te stel vir die produsente en adviseurs wat in belang van die produsent sal wees en wat gebaseer is op veral bevindinge van bemestingsproewe. Heelwat vrae bestaan rondom die bemesting van wyndruiwe en veral die spesifieke voedingselement-behoeftes wat tans nie deur die 1994 Wingerdbemestingshandleiding beantwoord word nie. Dis belangrik dat alle adviseurs t.o.v. wingerdvoeding in die SA wynbedryf op grond van dieselfde wetenskaplike aannames/ feite bemestingsaanbevelings sal maak aan produsente. Dit is ook belangrik dat almal weer op hoogte kom van die nuutste navorsingsinligting (plaaslik en oorsee) asook praktiese kennis en ervaring. Die dokument kan ook as opleidingsmateriaal (module vir wingerdvoeding) vir alle studente in grondkunde en wingerdkunde dien.

6

Made with FlippingBook Annual report maker