BEMESTINGSRIGLYNE VIR DIE WYNBEDRYF

Die basiese katioonversadigingsverhouding (BCSR) vergeleke met die genoegsaamheidsvlak van beskikbare voedingstowwe (SLAN). As riglyn waarvolgens grondanalises geïnterpreteer en bemesting toegedien word, word die basiese katioonversadigingsverhouding (BCSR)-konsep (beter bekend as die Albrecht-stelsel) gebaseer op ’n veronderstelling dat plante slegs optimaal sal groei indien daar ’n gebalanseerde katioonverhouding (Ca 2+ , Mg 2+ en K + ) vir elke grond is, volgens die katioonuitruilkapasiteit (KUK) daarvan. Bemesting word dus gedoen volgens die grond se behoeftes en nie die plant s’n nie. In ’n oorsigartikel trek Kopittke & Menzies (2007) die BCSR-konsep terug na die laat 1800’s en bevind hulle dat sedert die onstaan daar van geen navorsingsdata daarin kon slaag om die bestaan van enige “ideale” basiese katioonversadigingsverhouding te bewys nie. Hulle het eerder bevind dat bevordering van die BCSR-konsep gelei het (en sal lei) tot ondoeltreffende gebruik van hulpbronne en kunsmis. Navorsing deur verskeie wetenskaplikes het bewys dat die SLAN- konsep (genoegsaamheidsvlak van beskikbare voedingstowwe), waar ’n minimum konsentrasie beskikbare voedingstowwe in die grond benodig word vir optimale plantvoeding, ook op wingerdstok ke van toepassing is. Ofskoon die “ideale” grond vir wingerdstokke dramaties kan wissel van streek tot streek en tussen verskillende grondtipes, word die samestelling daarvan gebaseer op ’n minimum vlak van voedingstowwe wat in die grond benodig word om aan die voedingsbehoeftes van die wingerdstok te voldoen. Voedingselementbalansering word in sommige gevalle wel gebruik om grond te evalueer. So byvoorbeeld word ’n Ca:Mg-verhouding wat ongeveer 6 as aanduiding gebruik om te bepaal of kalsitiese of dolomitiese kalk gebruik moet word. Vir wingerdgronde is die ideale versadigingspersentasie van die uitruilbare katione Ca 80%, Mg 15% en K 4%, wat ’n Ca:Mg:K-verhouding van omtrent 20:3.75:1 meebring. In die praktyk is dit egter nie nodig om hierdie “ideale” verhouding vir wingerd na te streef nie.

3

26

Made with FlippingBook Annual report maker